
Mnr. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne van Agri SA, sê die uitkoms van dié proses sal ’n noemenswaardige impak op die lewensvatbaarheid van boere hê aangesien dit die potensiaal het om marginale boere van die wal af in die sloot te stoot. Dít kan ’n slegte impak op verbruikers hê aangesien dit voedselpryse hoër kan dryf.
“Agri SA het begrip daarvoor dat die sektor een van die grootste waterverbruikers is. Hy moet daarom sy aandeel in die nasionale verbruik daarvan finansier. Dit is egter vir voedselsekerheid in Suid-Afrika en die sektor se indiensneming noodsaaklik dat die tarief op ’n koers is wat die sektor finansieel stabiel hou.”
Nasionale konsultasies sal op 26 Augustus plaasvind. Agri SA sal belangrike punte wat reeds aan die departement voorgelê is, weer opper.
Rabie lig uit dat die konsultasieproses plaasvind op ’n tyd dat boere getref word met stygings van verskeie insetkoste, onder meer brandstof en kunsmis. “Hierdie prysstygings beïnvloed die hele waardeketting, veral wat die vervoer van voedsel betref, en dit word weerspieël in huishoudings se stygende voedselkoste. ’n Verhoging van die tarief vir ongesuiwerde water bo inflasie sou die inflasionêre druk op verbruikers wat reeds onder druk is, verder vererger.”
Rabie sê die regering moet aandag gee aan die swak lewering van waterverwante dienste aan boere. Dit sluit onder meer in onderbesteding in sommige gebiede, swak vraagbestuur in Nelson Mandelabaai wat tot nadeel van die boere is, asook die stygende tarief in die Klein-Karoo ten spyte van boere se pogings om self infrastruktuur te onderhou en die sporadiese beskikbaarheid van water.
“Besprekings rondom die hersiening van die huidige strategie vir die prys vir ongesuiwerde water word reeds gevoer. Agri SA neem ook hieraan deel om die lewensvatbaarheid van die landbousektor te verseker.
“Agri SA steun ’n regverdige regime wat die landbousektor in staat stel om te floreer. Ons sal voortgaan om aan die regering se konsultasieprosesse deel te neem ten einde voedselsekerheid vir Suid-Afrika en die lewensbestaan van Suid-Afrikaanse boere en plaaswerkers te verseker.”