Suid-Afrika was tot redelik onlangs een van die lande waar die meeste navorsing gedoen is oor die meting en interpretasie van totale faktorproduktiwiteit (TFP). TFP is ’n maatstaf van die produktiwiteit van alle insette, saam bereken. Dit is besig om te verander weens ernstige probleme met data.
Een van die gevolge van die deregulasie van die landbou was dat daar nie ’n instelling tot stand gebring is om data-insameling en -bewaring in die plek van die beheerrade te doen nie.
Dit is nie asof data glad nie meer ingesamel word nie, inteendeel, landbousensusse word min of meer elke tien jaar gedoen. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling publiseer ook jaarliks die Kortbegrip van Landboustatistiek.