
Verbruikers kla by die Melkprodusente-organisasie (MPO) dat daar 'n tekort aan suiwelprodukte op winkelrakke is.
Mnr. Bertus de Jongh, besturende direkteur, sê dit behels blykbaar veral vars gepasteuriseerde en langlewevolroommelk.
Me. Sarita van Wyk, woordvoerder vir Shoprite Checkers, sê die groep ervaar 'n kleiner voorsiening van melk as wat gewoonlik in die winter gebeur en dit raak langlewemelk (UHT) meer as vars melk.
“Die vraag na plaaslik geproduseerde melk is tans hoër omdat invoer deur ongunstige wisselkoerse beperk word. Voorsieningsvolume sal na verwagting in die lente weer begin styg,” het sy gesê.
Mnr. Brian Austin, hoof van kruideniersware by Pick n Pay, sê die groep ervaar nie tekorte aan vars melk nie en het selfs 'n paar spesiale aanbiedings hierop. Die groep ervaar wel weens verskafferprobleme tekorte aan langlewemelk.
Dr. Koos Coetzee, hoofekonoom van die MPO, sê hoewel melkproduksie volgens voorlopige syfers in Junie vanjaar 1,9% meer was as dieselfde maand verlede jaar, was die produksie in die eerste halfjaar van vanjaar 0,4% laer as in die ooreenstemmende ses maande verlede jaar. Dit terwyl verbruikersvraag met sowat 4% per jaar groei.
De Jongh sê hulle het melkkopers vroeg vanjaar gewaarsku dat produsentepryse te laag is om groei in produksie aan te moedig. “Daar was wel 'n mate van verbetering in pryse, maar nie genoeg nie. Ons is teleurgesteld dat daar nie 'n groot styging in produsentepryse was nie. Daar was genoeg inligting vir kopers om daarop te reageer.”
De Jongh sê die MPO beywer hom daarvoor dat boere se winterpremie nie in die lente weggeneem word nie omdat dit die bedryf verder onder druk kan plaas.
Mnr. Alwyn Kraamwinkel, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Melkverwerkersorganisasie (Sampro), sê melkproduksie styg gewoonlik skerp van Julie tot Oktober en in 2008 tot 2013 was hierdie styging tussen 24% en 29%.
“Die produksie van suiwelprodukte is veral afhanklik van Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers en toestande in die internasionale suiwelmark wat die land se in- en uitvoer van suiwelprodukte beïnvloed.”
Kraamwinkel sê verbruikers was al verlede jaar onder druk en het minder brood, koffie en tee gekoop. “Hoër produksie van suiwelprodukte gegrond op hoër produksie van onverwerkte melk kan later vanjaar 'n baie uitdagende situasie vir die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf skep. Hoër verbruikersvraag word weens verwagte swak ekonomiese groei nie in die vooruitsig gestel nie en laer pryse word vir suiwelprodukte in die internasionale mark verwag.”