Sewe Oos-Kaapse telers het saamgespan om 14 geregistreerde Nguni-verse en ’n bul aan opkomende boere op bruikleen beskikbaar te stel.
Die Umsenge- Ngunitelers het die skenking aan die Uitkomst-trust in Jansenville oorhandig. Die lede van die trust is mense wat voorheen plaaswerkers was.
Mnr. Ray Hobson, Angoraboer van die distrik wat as mentor vir die trust optree, sê aangesien die groep reeds met wolskape en sybokke boer, die beeste sal help om die veld skoon te hou en saadbesoedeling van die vesel te verminder.
Bruikleen
Mnr. Glenam Knott, voorsitter van Umsenge, sê die verse sal op heeltydse bruikleen beskikbaar gestel word. Die vroulike nageslag sal die trust se eiendom word.
Die manlike diere sal verkoop word en die inkomste gelykop tussen Umsenge en Uitkomst verdeel word. “Ons is ook bereid om op dieselfde wyse ander verdienstelike opkomende boere in die land by te staan,” het hy bygevoeg.
Me. Sarah Louw, voorsitter van die trust, sê dat vennootskappe soos dié baie sal help om armoede te verlig.
7 November 2011