
Wildboerdery kan eersdaags deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye oorgeneem word nadat Minister Senzani Zokwana op 10 Julie ’n lys van 12 wildspesies as landras-rasse in die Staatskoerant aangekondig het.
Daar kan nou spesiegenootskappe, soortgelyk aan die telersgenootskappe van bees- en skaaprasse, vir swartwildbebees, blouduiker, blouwildebees, bontebok, gemsbok, rooibok, oorbietjie, rooi hartebees, bastergemsbok, swartwitpens, springbok en tsessebe op die been gebring word.
Dit kom nadat mnr. Peter Knite na bewering in terme van die Wet op Diereverbetering (Wet 62 van 1998) daarvoor aansoek gedoen het. Knite het ook by die registrateur van die wet aansoek gedoen om ’n registrasieliggaam soortgelyk aan SA Stamboek te registreer.
Dit staan nou bekend as die Wildprodusentevereniging (Wildlife Producers Association, WPA), sê dr. Peter Oberem, adjunkvoorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA).
Teenkanting
Oberem sê hy is baie bly oor hierdie verwikkeling en dat dit beter bestuur en regulering in die wildbedryf tot gevolg kan hê. Ander partye in die wild en jagbedryf deel egter nie almal sy optimisme nie.
Die SA Jagters en wildbewaringsvereniging (SA Jagter) het in ’n sterk bewoorde persverklaring teen hierdie aankondiging te velde getrek en gesê die wysiging plaas die wildspesies onder bedreiging van genetiese besoedeling en manipulasie.
Sommige van die diere is ook bedreigde spesies en teelpraktyke soos genetiese manipulasie en kruisteling van wild is teenstrydig met bestaande beleid rondom biodiversiteit en natuurbewaring, sê me. Lizanne Nel, bewaringsbestuurder by SA Jagters.
Oberem sê dit sal nie sommer gebeur nie. Hy verduidelik dat elke spesiegenootskap sy eie grondwet gaan hê wat onderhewig sal wees aan WPA se grondwet. “Praktyke soos kunsmatige inseminasie, embriospoeling en kloning is ontoelaatbaar in terme van die WPA se grondwet en spesiegenootskappe sal dit dus ook nie kan toelaat nie.”
Dit is egter nie net die SA Jagters wat bekommerd is oor die impak wat wildspesies onder die vaandel van die landboudepartement kan hê nie. WRSA is ook verdeeld oor die kwessie, sê Oberem.
Verskillende belange
Die organisasie se voorsitter, mnr. Wiaan van der Linde, sê dit is vir WRSA moeilik om vinnig ’n besluit te maak en te sê of die wetgewing goed of sleg is omdat die organisasielede verskillende fasette van die wildbedryf verteenwoordig.
“Vir ons lede wat primêr wildtelers is is dit beslis ’n beter opsie. Daar is nie ’n meer akkurate of betroubare stelsel as iets soortgelyk aan Stamboek om by betrokke te wees nie wanneer dit by die teel van wild vir ’n ‘stoetbedryf’ kom nie.”
Van der Linde wys egter daarop dat alle wildboere se eindverbruiker toeriste of jagkliënte is. “Wat gaan die gevolg daarvan wees om wild nou skielik plaasvee te maak? Wat gaan die persepsie in die wêreld wees? Hou dit vir ons ’n risiko in of nie?”
Oberem glo dit behoort geen rol te speel nie. Hy sê as die beheer van wildplase stilletjies na die landboudepartement verskuif het en niemand daarvan geweet het nie, sou niemand sou ’n problem gehad het nie. “ Daar sou niks verander het as ’n jagter na my plaas toe gekom het nie. Niemand dink eers oor watter wette die diere reguleer nie.”
Hy gee egter toe dat daar nou negatiewe sentiment in jagkringe ontstaan het. Van der Linde voeg by dat Namibië se jagbedryf van 4 000 besoekers na 18 000 per jaar gegroei het terwyl Suid-Afrika s’n van 9 000 na 4 000 besoekers gekwyn het. “ ’n Verskeidenheid faktore het daartoe bygedra en dis die alles die wildbedryf se skuld nie, maar nou speel ons nog meer in die hand van die mense met wie ons kompeteer.”
WRSA se raad vergader op 8 Augustus om ’n finale besluit te neem oor die organisasie se amptelike standpunt oor die nuwe wetgewing.