“Dit was vir ons ‘n groot teleurstelling”, sê mnr. Jannie de Villiers, hoof-uitvoerende beampte van Graan SA, oor die besluit dat die liggingsdifferensiaal nie sal wegval nie.
Die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) het Donderdag (28 Julie) bekend gemaak dat besluit is dat die differensiaal nie afgeskaf gaan word nie.
Dié besluit het gevolg ná twee vergaderings wat die JSE met die landbou-advieskomitee en ander rolspelers belê het. Die vergaderings is gehou na aanleiding van opmerkings wat gevolg het op die aanpassings wat vroeër die jaar aan die liggingsdifferensiaal vir mielies gemaak is.
GSA het alleen gestaan
Volgens De Villiers was Graan SA die enigste instansie wat tydens die tweede vergadering ten gunste van die skrapping van die liggingsdifferensiaal was.
“Tydens die eerste vergadering was dit slegs GSA wat standpunt ingeneem het en ons was ten gunste daarvan dat dit geskrap word. By die laaste vergadering was ons die enigste instansie wat die JSE se voorstel gesteun het om weg te doen met die differensiaal. Die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) het ons ondersteun dat daar te min deursigtigheid is. Al die ander instansies en mense was ten gunste van die behoud daarvan, of net neutraal.”
Risiko
Mnr. Rod Gravelet-Blondin, senior bestuurder van die JSE se kommoditeitsafdeling, sê tydens die tweede vergadering is uitgewys dat sou met die differensiaal weggedoen word, die risiko in die mark kan verhoog, wat ‘n verlaging in finansiële ondersteuning aan die sektor tot gevolg sal hê.
Gravelet-Blondin sê dié besluit is geneem omdat geen verteenwoordiger by die vergadering kon illustreer dat om met die liggingsdifferensiaal weg te doen, Suid-Afrika se graansektor sou verbeter nie.
Deursigtigheid
Volgens De Villiers het al die rolspelers saamgestem dat dié bepalings in die vervolg meer deursigtig moet plaasvind.
“Waaroor ons almal wel saamgestem het is dat die berekening in die toekoms meer deursigtig en voorspelbaar gemaak moet word. Dalk moet daar ook gekyk word na ‘n onafhanklike instansie om dit te bereken,” sê De Villiers.
29 Julie 2011