
Die appèlhof het beslis dat Normandien Boerderye nie kon versoek dat die aanvaarding van die eksplorasie-aansoek vir hersiening tersyde gestel moet word nie, omdat die boerdery nie daardeur benadeel is nie. Die hof was van mening dat Normandien sy aansoek voortydig gebring het en dat die tyd nog nie ryp was vir beregting oor die kwessie nie.
Die eksplorasie-aansoek raak bykans 5 500 plase in KwaZulu-Natal oor ’n oppervlak van net minder as 2 miljoen hektaar. Ván hierdie plase in die munisipale distrikte Newcastle en Dannhauser behoort aan Normandien.
Normandien het sy aanvanklike aansoek gebring op grond daarvan dat Pasa volgens hom nie aan die vereistes van die ontwikkelingswetgewing en -regulasies vir minerale en petroleumprodukte voldoen het nie toe die aansoek aanvaar is. Die hooggeregshof het bevind dat die aanvaarding van die aansoek onregmatig is en het dit vir hersiening tersyde gestel. Die hof het die maatskappy ook verbied om ’n omgewingsimpakstudie aan Pasa te oorhandig.
Mnr. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA, sê in die lig van die appèlhofbeslissing oorweeg Agri SA tans die implikasies daarvan op sy eie hersieningsaansoek in die Noord-Gautengse hooggeregshof oor Rhino Oil and Gas se omgewingsmagtiging en eksplorasieregte.
* Skaliegas-eksplorasie teister landelike gemeenskappe in Suid-Afrika al van Januarie 2011 af, toe Shell bekend gemaak het dat hulle in die Karoo en Oos-Kaap vir skaliegas wil soek. Klik hier om meer daaroor in Landbouweekblad se argief te lees.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.