‘n Paartjie van Tesselaarsdal, naby Caledon, is as wenners van die 4x4-uitdaagkompetisie wat by die Agri Megaweek op Bredasdorp gehou is, aangekondig.
Mnr. Riaan Smuts en me. Mariaan Coetzee het dié kompetisie gewen wat fokus op spanne van landbouverenigings om mee te ding en is ook oop vir lede van die publiek en ander besighede. Die kompetisie was van 15-17 September.
Mnr. Jaco Baard (heel regs) van die Rola Motor-groep oorhandig die eerste prys aan mnr. Riaan Smuts en me. Mariaan Coetzee van Tesselaarsdal. Hul seun, Boeta, staan voor.
‘n Totaal van 20 spanne, sover as Herold en Darling se landbouverenigings het ingeskryf. Deelnemers kon kies tussen twee (splinternuwe) bakkies van verskillende fabrikate (Toyota Hilux en Mitsubishi Triton), beide deur die borge, die Rola Motor Groep verskaf.
Mnr. Tony Abrantis, ‘n professionele 4x4-instrukteur van Cederberg 4x4, was die hoofbeoordelaar en het ook minder ervare deelnemers touwys gemaak oor die fyner kunsies van 4x4 ry.
Die 4x4 baan op Mega Park bestaan uit 8 hindernisse met beskrywende name soos “Watergat”, “die Wal”, “Stadig-oor-die-Klippertjies”, en ook dan natuurlik, die gevreesde “Tafelberg”. Hoewel elke hindernis sy eie unieke reëls het, werk die puntetelling deurgaans vir elkeen op ‘n basis van 100 vooraf-toegekende punte per hindernis, met aftrekkings vir elke fout wat gemaak word.
21 September 2010