Thailand se verbod op die invoer van Suid-Afrikaanse vars produkte kos die bedryf na raming R150 miljoen per jaar. Me. Elaine Alexander, die uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifindustrie, sê die verbod is in 2008 ingestel nadat Thailand aangekondig het dat hy die toegangvereistes tot sy mark gaan verander.
Suid-Afrika het aansoek gedoen om historiese uitvoerstatus, maar ’n probleem in dié proses het veroorsaak dat die mark vir tafeldruiwe, appels, pere en steenvrugte gesluit is.
Alexander sê die onrus in Thailand het onderhandelings met dié land se regering sedert 2008 bemoeilik. Dié regering hanteer Suid-Afrika se produkte asof dit nuwe toetreders tot die mark is, terwyl om historiese uitvoerstatus aansoek gedoen is. Dít alles verlangsaam onderhandelinge en die proses.
Luidens ’n verklaring het die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid in die Wes-Kaap onlangs bepaal dat die vrugtebedryf reeds sowat R450 miljoen rand (R150 miljoen per jaar) weens die verbod verloor het. Dit het ’n invloed op werksgeleenthede in die bedryf asook op die sosiaal-ekonomiese omstandighede van die gemeenskappe wat van seisoenswerk afhanklik is.
Onderhandelinge duur voort
Intussen duur onderhandelinge voort. ’n Vergadering tussen die onderskeie rolspelers het onlangs plaasgevind, en Alexander sê hoewel ’n oplossing nog nie gevind is nie, sal die proses voortgaan.
“Ons werk steeds saam met ’n span wat bestaan uit beamptes van drie nasionale en een provinsiale regeringsdepartement om ’n oplossing te vind. Ons vertrou egter dat ons in die regte rigting beweeg en ons waardeer die pogings wat die regeringspan tot dusver namens die bedryf gemaak het”, aldus Alexander.
1 Maart 2011