
Die eenheid tree namens die nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) op wat ses klagtes van verwaarlosing teen Modise aanhangig gemaak het nadat meer as 200 diere weens wanvoeding op Modderfontein, haar plaas naby Potchefstroom, in 2014 uitgesit moes word.
Die appèl sal volgende jaar op 10 Maart in die hooggeregshof in Mmabatho aangehoor word.
Landdros Ben Mtebele het Modise verlede jaar op al ses aanklagtes vrygespreek. Verskeie organisasies het destyds hul skok en teleurstelling oor dié bevinding uitgespreek. Die eenheid versoek dat Mtebele aan die hooggeregshof moet verduidelik hoe hy die bevinding gemaak het.
Mnr. Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die appèl benadruk die feit dat die eenheid sal aanhou om die stryd vir geregtigheid voort te sit en private vervolging sal inspan om te verseker dat almal gelyk is voor die reg.
“Die privaatvervolgingseenheid is oortuig dat die beginsels van toepassing by ’n ontslagaansoek foutiewelik toegepas is. Daar is volgens ons ’n goeie saak daargestel en Modise behoort die geleentheid te kry om haar kant van die saak te stel.”
Me. Marcelle Meredith, uitvoerende hoof van die DBV, sê dit is tragies dat geregtigheid vir die lyding van honderde diere voortdurend sedert 2014 vertraag is.
“In Maart 2023, wanneer ons terugkeer na die hof vir hierdie saak, sal dit byna nege jaar wees sedert die DBV se stryd om geregtigheid vir hierdie diere begin het. Dit is ’n baie duidelike aanduiding van ons vasbeslotenheid om te verseker dat geregtigheid geskied vir die lyding van daardie diere – maak nie saak hoe lank dit duur nie,” sê.
Landdros tree foutiewelik op
Die privaatvervolgingseenheid en die DBV voer in hul hofstukke aan dat Mtebele ’n fout gemaak het aangesien getuienis oorweeg is wat nie deel van die hofrekord was nie en ook nie behoorlik die relevante getuienis wat voor die hof geplaas is, in aanmerking geneem het nie. Dit sluit in dat die streekhof nie die getuienis van deskundiges in ag geneem het nie en terselfdertyd te veel waarde geheg het aan die mening van ’n lekegetuie ten opsigte van die hoeveelheid voer wat vir die diere beskikbaar was.
Die organisasies voer verder aan dat Mtebele foutiewelik bevind het dat die bestuur van die plaas oorgegee is aan Modise se “werknemers”, terwyl sy volgens die hof in Kaapstad was. Hierdie bevinding is volgens die eenheid nie gegrond op getuienis wat deur die vervolging gelei is nie en Modise ontken dat hierdie persone ooit in haar diens was. Daar is ook geen bewyse voor die hof geplaas dat Modise wel vir hierdie tydperk in Kaapstad was nie.
Verder voer die eenheid aan die streekhof het nie in ag geneem dat Modise se regspan geen pleitverduideliking verskaf het nie en haar weergawe van gebeure nooit aan die getuies voorgehou is nie.
“Die hof het nie bloot vir Modise ontslaan nie, maar ook die sogenoemde plaaswerkers as sondebokke geïdentifiseer – al dui die getuienis daarop dat hulle geen manier gehad het om die diere te voer nie,” sê Leask.
“Ons lei hieruit af dat die hof wel aanvaar dat die diere verwaarloos was en gevrek het as gevolg van ’n tekort aan voer en water. Die hof het staatgemaak op die redelike afwesigheid van die beskuldigde, maar geen getuienis is ooit gelei om dit te bewys nie. Die hof het verder ook nie die konsep van skuld met verwysing na dolus eventualis in aanmerking geneem nie.”
Indien die appèl in die hooggeregshof slaag, sal die saak terugverwys word na die Potchefstroomse streekhof waar Modise se regspan dan haar saak ter verdediging voor Mtebele sal moet stel.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.