
Ramaphosa het op ’n mediakonferensie by die Uniegebou in Pretoria verskeie samevoegings van departemente aangekondig wat meebring dat sy kabinet van 36 tot 28 verklein het. Hy het ook aangekondig dat mnr. David Mabuza weer die adjunkpresident van Suid-Afrika is.
Didiza het nie net voorheen dié portefeulje behartig nie, maar was in Februarie die jaar voorsitter van die Parlement se ad hoc-komitee wat die grondwetlike wysiging moes saamstel vir ’n verandering aan artikel 25 van die Grondwet ten opsigte van onteiening sonder vergoeding voorgestel word.
Didiza was van 1999 tot 2006 die minister van landbou en grondsake. Sy het in 2014 teruggekeer Parlement toe nadat sy in die vorige algemene verkiesing baie hoog op die ANC se kandidatelys vir die nasionale vergadering was. Sy was ook die minister van openbare werke van 2006 tot 2008.
Sy sal deur twee adjunkministers ondersteun word vanweë die skaal van die nuwe portefeulje. Mnr. Mcebisi Skwatsha, wat in die vorige kabinet gedien het, is die adjunkminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming. Mnr. Sdumo Dlamini, voormalige president van Cosatu, is Didiza se ander adjunkminister.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het Didiza se aanstelling verwelkom en gesê sy is bevoeg vir die posisie.
Ander aanstellings
Hier is van die ander aanstellings en veranderinge wat gemaak is wat op die landbou betrekking het:
Die departement van omgewingsake is met die departement van bosbou en visserye saamgesmelt. Me. Barbara Creecy is hier aan die hoof en haar adjunkminister is me. Maggie Sotyu.
Die departement van menslike nedersettings en die departement van water en sanitasie is saamgesmelt en me. Lindiwe Sisulu is as minister aangewys. Haar adjunkministers is me. Pam Tshwete en mnr. David Mahlobo.
’n Aanstelling wat as onverwags bestempel word, is dié van me. Patricia de Lille, die leier van die Good-party, as minister van openbare werke en infrastruktuur. Haar adjunk is me. Noxolo Kiviet.
Mnr. Ebrahim Patel, voormalige minister van ekonomiese ontwikkeling, vervang dr. Rob Davies as minister van handel en nywerheid.
Mnr. Bheki Cele is steeds die minister van polisie en mnr. Tito Mboweni is steeds die minister van finansies.
Die departement van arbeid sal voortaan die departement van werkskepping en arbeid wees, met mnr. Thulas Nxesi as minister.
Nie op die lys
Mnre. Senzeni Zokwana, voormalige minister vir landbou, bosbou en visserye, en Gugile Nkwinti, voormalige minister vir water en sanitasie, se name was nie op die lys name wat in die Staatskoerant gepubliseer is om as LP’s ingehuldig te word nie.
Zokwana het al verskeie kere onder skoot gekom oor bewerings van wanadministrasie en korrupsie deur amptenare van die visserye-afdeling van die departement. Hy en mnr. Mike Mlengana, die direkteur-generaal van die departement, het ook verskeie kere koppe gestamp.
Nkwinti, wat voorheen minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming was, het hom onlangs tot die hof gewend in ’n poging om te keer dat ’n verslag van die openbare beskermer (OB) bekend gemaak word waarin bevind is dat hy aan magsmisbruik skuldig was toe hy minister in dié departement was. Me. Busisiwe Mkhwebane, OB, het Ramaphosa opdrag gegee om stappe teen Nkwinti te doen vir sy beweerde aandeel in die aankoop van ’n plaas van R97 miljoen in Limpopo vir ’n ANC-amptenaar en dié se vennoot.
Me. Nomvula Mokonyane, voormalige minister van omgewingsake, is na Luthuli-huis ontplooi.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.