
Kaasliefhebbers, uitstallers en borge is dit eens: die SA Kaasfees se nuwe terrein is tops.
Die 10de SA Kaasfees is die afgelope naweek by Sandringham aangebied en duisende mense het deur die hekke gestroom om te proe, te kuier en te koop.
“Met die nuwe ruimer terrein kon ons tot 10 000 mense per dag akkommodeer en Saterdag én Sondag was die kaartjies uitverkoop,”sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo.
“Die skuif Sandringham toe het op die regte tyd gekom, aangesien die 10de Kaasfees die grootste ooit was met heelwat meer kaas en ander uitstallers as vorige jare, en die groter spasie het gekeer dat dit ongemaklik vol raak in die tente.”
Die Kaasfees is by uitstek dié geleentheid waar veral boetiekkaasmakers die geleentheid gegun word om hul produkte aan die kaas-etende publiek bekend te stel.
“Die terugvoer van die proeërs is vir my van onskatbare waarde,”sê Pauline Leppan, kaasmaker van Sandford Farm in die Hemel en Aarde Vallei buite Hermanus. Pauline is vir die eerste keer by die fees met haar kaas. “Die koopkrag is fantasties en ek voel dat die geleentheid funksioneel regtig goed georganiseerd is.”
Ook Rian van der Merwe, bemarkingsbestuurder van Ladismith Kaas – een van die land se groter kaasvervaardigers – meen die nuwe terrein werk goed: “Die wyer gange het veroorsaak dat die vloei van mense meer effektief was,”sê hy. Ladismith Kaas is reeds vir die afgelope nege jaar by die fees as borg en uitstaller betrokke.
Aan die vermaakkant was daar ook nie ‘n tekort aan interessante vertonings en demonstrasies nie. Nataniël, wat al ‘n instelling by die fees is, het besoekers aan die lag gehou met sy kwinkslae, terwyl hy sy gunstelingresepte in die Checkers Living Table gedemonstreer het.
“Die Kaasfees is al ‘n tradisie in my lewe,”sê hy. Nataniël is ook reeds vir nege jaar by die fees betrokke. “En hierdie jaar se ‘nuwe’fees was tegnies en logisties uitstekend georganiseer.”
Kaasliefhebbers kan maar hulle kalenders nadertrek om volgende jaar se datums in te pen: die fees vind volgende jaar plaas oor die langnaweek van 27-30 April 2012.
3 Mei 2011