
Volgens mnr. Colin Wellbeloved, voorsitter van die Melkprodusente-organisasie (MPO) in KwaZulu-Natal wat in die Boston-omgewing tussen Pietermaritzburg en Underberg boer, lewer KwaZulu-Natalse boere dié tyd van die jaar daagliks altesaam sowat 2 miljoen liter melk. Hy reken nie eens die helfte hiervan kon sedert Saterdag opgelaai word nie.
Baie van dié melk word gebruik om produkte vir Gautengse verbruikers te vervaardig.
“Ons kan sedert Saterdag nie ons melk verkoop nie, want dit kan nie vervoer word nie. Die paaie is versper. Net in my omgewing alleen moes ons gister 60 000 liter melk stort. Een boer met wie ek gister gepraat het, moes 30 000 liter melk stort.
“ ’n Mens produseer elke dag melk, die koeie kan nie afgeskakel word nie. Dit is ontmoedigend om heeldag te bestee om koeie te melk, en daarna die kraan te moet oopdraai en daar vloei die melk weg.”
’n Tenkwa van sy melkkoper het wel Dinsdagnag op sy plaas opgedaag en hy kon Dinsdag se melk laai. “Ek weet nie hoe hy dit reggekry het om hier uit te kom nie.”
Wellbeloved sê alle melkkopers en melkboere word deur die situasie geraak.
Die MPO het Woensdag opnames onder sy lede begin doen om vas te stel hoeveel melk nie verkoop kon word nie en hoeveel verliese boere ly.
Volgens Wellbeloved het ’n Gautengse melkkoper aan hom gesê hy het dáár probleme met die vervoer van melk wat hy by boere kry. “Hul produksie- en verwerkingsvermoë is oorweldig omdat hulle nie die melk kan vervoer nie.”
Laer produksie
Wellbeloved sê melkboere in KwaZulu-Natal kan ook nie voer en konsentraat kry nie. Hoewel hulle weidingsboere is, gebruik hulle konsentraat om produksie te verhoog. “Dit sal die toekomstige hoeveelheid melk wat geproduseer word, benadeel. Produksie daal en herstel nie. Daar gaan hierna minder melk wees, en dit gaan die hele seisoen nie herstel nie.”
Ondersteuning
Volgens Wellbeloved ontvang boere baie steun uit die gemeenskap. “Elkeen doen sy bes. Ek is aangenaam verras met die steun wat ons uit ons landelike gemeenskap kry. Mense wat nog nooit eens op ons plase gewerk het nie, kom help ons om brande te blus.”
Clover ook geraak
Die suiwelmaatskappy Clover, wat ’n groot aanleg in Queensburgh, Durban, het Woensdag, 14 Julie by navraag bevestig dat sekere van sy bedrywighede, hoofsaaklik in KwaZulu-Natal en Gauteng, regstreeks of onregstreeks deur die onrus in dele van die land geraak word.
Clover sê hy het maatreëls getref om te verseker dat sy werknemers ongedeerd bly en om die uitwerking op sy geriewe te beperk.
“Ontwrigtings word ongelukkig in die waardeketting ervaar en Clover werk saam met sy sakevennote om aandag te gee aan die uitwerking hiervan op die beskikbaarheid van produkte. Die bestuur monitor die verwikkelings en sien uit na die regering se dringende ondersteuning om te verseker dat voedselsekerheid te alle tyd voorrang geniet,” het die maatskappy gesê.