
‘n Vyf maande-oue Bengaalse tier, wat vermoedelik in ‘n dieretuin in Jordanië mishandel is, het met behulp van die Four Paws-liefdadigheidsorganisasie ‘n veilige tuiste in die Oos-Vrystaat gevind.
Bahar, wat “die lente van die lewe” in Arabies beteken, het ná ‘n reis van twee dae vanaf Jordanië Saterdag (5 Februarie) by die Lionsrock Big Cat Sanctuary buite Bethlehem aangekom.
Hy is een van drie tiere wat onlangs deur die Prinses Alia-Stigting en Four Paws in Jordanië gered is, en wat by die New Hope Center in dié land versorg is voordat hy na Suid-Afrika gekom het.
Twee ander tiere, wat deel was van ‘n sirkusgeselskap van Sirië, sou ook na Lionsrock toe gekom het. Die twee diere is na verwagting vir die sirkus geteel, maar is deur die owerhede gekonfiskeer.
Die tierwyfie is egter kort ná haar opname by die sentrum dood en die mannetjie is tans baie siek en kan nie vervoer word nie.
Bahar se geluk
Bahar is deur ‘n hele span kundiges, asook Prinses Alia van Jordanië, wat die stigting vir mishandelde diere in haar land tot stand gebring het, na Suid-Afrika vergesel.
Hy sal die res van sy lewe in rus en vrede by Lionsrock deurbring, soos die res van die diere daar. Lionsrock se visie is om ‘n tuiste aan mishandelde diere, veral groot katte, te bied waar daar nie met hulle geteel word nie, en waar hulle so min as moontlik in regstreekse kontak met mense kom.
Bahar is Saterdagmiddag met groot afwagting by sy nuwe tuiste verwelkom, maar ná sowat ‘n halfuur se probeerslae wou hy aanvanklik nie die bekendheid van sy vraghouer vir die nuwe kamp wat vir hom gebou is, verruil nie. Kyk hier na foto's van die tier en Lionsrock se fasiliteite.
Die tier, wat glo afkomstig is van ‘n werpsel wat tussen ‘n broer en suster geteel is, is gelukkig vroeg in sy lewe uit die kloue van tierhandelaars in Arabië gered. Miles sê hulle verwag om in die week ‘n leeu en tier, wat albei in verskillende dieretuine in Bulgarye aangehou is, te ontvang. Kliek hier om na `n video van Bahar te kyk.
7 Februarie 2011