Die buitelandse reise van me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, beloop meer as R1,7 miljoen.
Dié inligting het na vore gekom in ’n parlementêre vraag van mnr. Deetlefs du Toit, DA-LP.
In haar antwoord kan gesien word dat die meeste van haar reise met pres. Jacob Zuma was en dat sy sedert haar aanstelling as minister verlede jaar byna elke maand op ’n buitelandse besoek was.
’n Reis wat veral wenkbroue laat lig, is toe sy met ’n huurvlug (wat R889 955 gekos het) in Oktober na Egipte gevlieg het om by Zuma aan te sluit vir die ondertekening van ’n memorandum van verstandhouding oor veeartseny- en gesondheidsdienste met die Egiptiese regering.
Sy het sedert 1 Julie verlede jaar tot 3 November vanjaar 18 reise onderneem. Dié reise sluit in ’n besoek aan Libië, Kenia, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Rome, Swede, Nigerië, Uganda, Brasilië, Tanzanië, Indië, Namibië en Rusland en twee reise elk na Zambië, Egipte en China.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 17 Desember 2010.
13 Desember 2010