
’n Skenking van een trekker vir ’n vissersgemeenskap en twee trekkers vir kleinboere is die verrassing wat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Maandag (25 Junie 2012) op Arniston gebring het.
Die minister het ook nuus van groter samewerking tussen die nasionale departement en die gemeenskap aan afgevaardigdes oorgedra.
Luidens ’n verklaring het Joemat-Pettersson die vissersgemeenskap en kleinboere aangemoedig om ’n gesonde kultuur van samewerking te ontwikkel en behou. “Gemeenskappe moet die eerste stap doen om ekonomiese bemagting te bereik.”
Visplase
Die minister meen dat die vestiging van visplase ’n oplossing kan bied vir die seisoenaliteit van die vissersbedryf en die wisselvalligheid van inkomste. “Visplase sal sonder twyfel die wisselvalligheid van inkomste verbeter en volhoubare werksgeleenthede verseker.”
Die verwerking van vis en die ongebruikte potensiaal wat tans vir gemeenskappe in dié bedryf bestaan, moet volgens Joemat-Pettersson ontgin word. “Die tyd is ryp vir seevisserye en visserye op plase om saam te werk en ’n formidabele platform daar te stel waarvandaan lewensvatbare en volhoubare swart ekonomiese bemagting kan floreer.”
Die minister sê dié gemeenskap kan altyd verseker wees van die nasionale departement se ondersteuning.