Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister vir Landbou, Bosbou en Visserye het haar adjunk, dr. Pieter Mulder, opreg om verskoning gevra vir die uitlating van sy voorwoord uit die departement se jaarverslag.
Dít kom nadat mnr. Lulu Johnson, voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, op ‘n vorige vergadering uitgelig het dat Mulder se weglating ernstig nalatig is en onmiddellik reggestel moet word. Hy meen dat hoewel Mulder die leier van die Vryheidsfront Plus is, is hy deur pres. Jacob Zuma as adjunk-minister aangestel.
Joemat-Pettersson het by ‘n komiteevergadering by die Parlement gesê dat die glips ‘n groot verleentheid is en het vir Mulder om verskoning gevra.
“Ek wil in die openbaar om verskoning vra. Ek het my departement opdrag gegee om die situasie onmiddellik reg te stel.”
Verhoudings en persepsies
Sy het ook persepsies dat sy Mulder ondermyn en hy nie take het nie, ‘n nekslag toegedien. “Die persepsie is dat as ek ‘n LUR in plaas van my adjunk-minister op ‘n reis stuur dan ondermyn ek hom. Ons het besluit om so veel mense as moontlik in die sektor te bemagtig. Selfs die voorsitter van die portefeuljekomitee was al gevra om die minister te verteenwoordig.”
Voorts het sy aangedui dat Mulder op ‘n keer so baie versoeke gehad het om haar te verteenwoordig dat hy gevra het dat verminder moet word. Mulder is verantwoordelik vir die bosbou-afdeling van die departement. Sy kernverantwoordelikheid is om die wetgewende hersiening van die 33 stukke wetgewing te behartig.
Die hersiende wetgewing sal volgens die land se nuwe ekonomiese groeiplan gedoen moet word.
Oor sy verhouding met die minister het Mulder gesê dat hulle van verskillende politieke partye is. Dit is ‘n unieke situasie, maar solank daar kommunikasie is kan dit aangespreek word, het hy gesê.
Sy ervaring in die departement sover is dat die departement se prioriteite voedselsekuriteit en landelike ontwikkeling is, wat nie baie van sy eie party sin verskil nie.
28 Oktober 2010