
Só het prof. Ben Cousins van Plaas, die instituut vir armoede-, grond- en landelike studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland, tydens Hortgro se tegniese simposium op Somerset-Wes gesê.
Hy wil hê mense moet wegdoen met die mite dat titelaktes ’n soort van platform tot vooruitgang is omdat mense daarteen kan leen en dan klein ondernemings begin.
“Dit werk nie so nie. As jy ’n huis het, waarom sal jy die risiko loop om dit te verloor met ’n klein onderneming wat in 75% van gevalle vou? Dit maak nie sin nie, daarom doen mense dit nie.”
Cousins meen titelaktes is ’n goeie stelsel vir die middelklas, maar nie vir arm mense nie.
Volgens hom verwys ’n titelakte nie noodwendig na ’n formele reg nie, maar eerder na ’n kadaster van bepaalde eienaars wat as grondslag dien vir diensverskaffing, ontwikkelingsbeplanning en plaaslike belasting.
“In Suid-Afrika word dit as ’n doeltreffende stelsel beskou, maar vir die meeste Suid-Afrikaners is dit nie toepaslik nie. Dis te duur en omslagtig en dit neem nie families of gemeenskapslede in ag wat grondbesit deel nie. Dit neem ook nie die regte van maatskaplike grondbesitstelsels in ag nie.”
Plaas se statistieke toon dat sowat 60% van Suid-Afrikaners grond en huise buite die formele eiendomstelsel besit.
Cousins het verwys na mense wat sogenaamde HOP-huise (deel van die destydse heropbou- en ontwikkelingsprogram) op die informele mark verkoop, maar weens koste en moeite dit nie herregistreer nie.
“Dit gebeur nie omdat mense oningelig is nie, maar omdat dit nie by hul behoeftes pas nie. Ons het ’n uitgebreide weergawe nodig van wat ons met ’n titelakte bedoel, en dit moet die eiendomsregte van mense in die stedelike en landelike gebiede insluit. Dit sal die meeste van die bevolking pas omdat hulle arm en werkloos is.”
Cousins beskou die die voorstel deur die hoëvlakpaneel onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe om eiendomsreg – ongeag die grondbesitstelsel – op ’n register aan te teken as “interessant”.
“Ons almal moet dit ondersteun. Dit gee ’n grondslag vir dispuutresolusie en bied ook sekerheid oor eiendomsbesit.”