Ná hofstukke oor die samestelling van die taakspan vir hidrobreking ingedien is, het die Regering 15 hofdae om te reageer, sê die Treasure the Karoo-groep (TKAG).
Mnr. Johathan Deal, voorsitter van die groep, sê die hofaansoek is Woensdag (26 Oktober 2011) ingedien en die hofstukke is ook op die Departement van Energie en me. Susan Shabangu, Minister van Minerale Sake, se kantoor beteken.
Die groep het besluit om regstappe te doen ná verskeie mislukte pogings om inligting van die departement te kry oor wie lede van die span gaan wees en hoe dit saamgestel is. Deal sê as die departement nie reageer nie, sal vinnige regsoptrede volg. “Dit sal nie wys wees van die departement om nié te reageer nie.”
Groep van ses
Intussen sê Deal die feit dat net ses mense Maandag (31 Oktober 2011) aan ’n protesaksie teen hidrobreking en die eksplorasie van skaliegas in die Karoo deelgeneem het, is nie ’n teken dat belangstelling in die stryd afneem nie.
Luidens ’n berig op Nuus24.com het die protesaksie by die V&A Waterfront in Kaapstad se ingang plaasgevind. Dit is daar gehou omdat die 18de Africa Oil Week 2011-konferensie dié week by die BMW-paviljoen gehou word. Deal sê hulle was bewus van die aksie en hulle is baie dankbaar vir die poging, maar dit is nie goed geadverteer nie.
“Dit het ook sowat R30 000 gekos om te registreer as ’n afgevaardigde by die konferensie. Die TKAG het nie enige pogings aangewend om dit te probeer bywoon nie, want daar is makliker platvorms om mense en besluitnemers te bereik,” vertel Deal.
Debat
Deal sê hulle is baie opgewonde oor ’n debat wat op 22 November by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth plaasvind. Hy sal, saam met drie ander sprekers – wat ’n verteenwoordiger van Shell insluit – aan die debat deelneem.
Verder fokus die groep op twee skaliegas-konferensies wat volgende jaar in Suid-Afrika gaan plaasvind.
’n Tweede protesaksie sal Donderdag (3 November 2011) weer op dieselfde plek plaasvind.
Bron: Nuus24.com
1 November 2011