
Mnr. Bheki Cele, minister van polisie, se pogings om die inperking te gebruik om die toename in misdaad te probeer verbloem, lei niemand in Suid-Afrika om die bos nie, sê mnr. Henry Geldenhuys, president van TLU SA.
Cele het op Vrydag 20 Augustus die jongste misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal van die 2021-’22-boekjaar, wat strek van 1 April tot 30 Junie 2021, bekend gemaak. Moorde het met 66,2% toegeneem teenoor die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar.Cele het herhaaldelik beklemtoon dat die dubbelsyfer-styging nie ’n ware weerspieëling van die toename van misdaad is nie omdat die covid-19-pandemie die syfers skeef trek.
“Slim woorde verander nie die feit dat 5 760 mense in drie maande in Suid-Afrika vermoor is nie. Waar op aarde is dit aanvaarbaar dat 2,7 mense per uur doodgemaak word? Dit is waansinnig,” sê Geldenhuys.
Volgens Geldenhuys is dit verder uiters kommerwekkend dat die polisie die afgelope twee jaar geen nuwe rekrute kon aanstel nie, terwyl verskeie ervare lede aftree. “Dit laat Suid-Afrikaners, en veral boere op afgeleë plase, baie kwesbaar in ’n land waar misdaad seëvier.
“Dit is onaanvaarbaar dat die polisie se begroting besnoei en die res aan wanbesteding en korrupsie verloor word, terwyl misdaad een van die knelpunte in die land is. Dit is ook nie vir ons genoeg dat Cele sê die herstruktureringsprogram vorder goed nie. Stel doeltreffende planne op en gebruik die beskikbare geld om misdaad doeltreffend te bestry.”
Besoek https://www.tlu.co.za/tsamaea-cele/ om TLU SA se veldtog teen wanbestuur en korrupsie in die polisie te steun.