
Die ANC se voorstel om belasting op onbenutte grond te hef as manier om meer grond vir sy transformasie-agenda beskikbaar te kry is onduidelik en daar moet verduidelik word wat dié party met “onbenutte grond” bedoel, sê mnr. Henry Geldenhuys, president van TLU SA.
“Verwys die ANC na die grond waarvan 95% ingevolge sy grondoordragprogramme uit produksie gegaan het? Wanneer ’n boer in ’n wisselbouprogram bepaalde kampe laat rus, is dit ver verwyder van onbenut en is daar ’n wetenskaplike volhoubaarheid ingebou.
“Om grond uit te deel is van geen waarde nie tensy dit die ander produksiefaktore in ag neem. Grond as sodanig is nie welvaart nie, maar kan welvaart skep as ’n ondernemer (boer) dit met kundigheid bestuur saam met die ander faktore in ’n dinamiese produksieproses om winsgewend te wees.”
Geldenhuys sê die ANC moet besluit of hy voedselsekerheid in Suid-Afrika wil hê of nie, want met sy beleid is hy besig om die land se voedselproduksie onder die verkeerde soort druk te plaas.
“Hierdie benadering om grond in die hande te probeer kry, kan hoogstens gesien word as ’n stemwerwery. Deur die jare het TLU SA en ook andere by herhaling ekonomies gerigte voorstelle gemaak oor hoe nuwe toetreders wel kan toetree tot die landbou-omgewing en die kans op sukses kan hê, mits hulle natuurlik die verantwoordelikheid wat dit verg om te kan boer, sal aanvaar.”
Verder vra Geldenhuys dat die ANC moet aandui wat hy nie verstaan van hoe die ekonomie en die enigste meganisme wat bepaal of daar ekonomiese sukses is, naamlik die markkrag-beginsels, werk nie.
“Kom ons probeer weer. Die entrepreneur of ondernemer as een van die produksiefaktore is die persoon wat die risiko loop om met sy of haar toepaslike kennis die ander produksiefaktore, naamlik grondstowwe, kapitaal en arbeid, saam te voeg in ’n besigheid.
“Met die snelle ontwikkeling van tegnologie en meganisasie sou dit as ’n vyfde produksiefaktor gesien kan word, ook in die sin dat dit arbeid kan vervang. Dit is iets waarvan die vakbonde dalk moet kennis neem.
“Dit is dalk nodig vir die ANC om te leer hoe om mense te voed met ’n ideologie, want met sy werkswyse van kaderontplooiing, selfverryking en byna geen ekonomiese uitkomste nie sal dit dalk al wees wat mettertyd gaan oorbly om mense kos te gee.”