Die TLU SA het pres. Jacob Zuma en sy kabinet uitgedaag om standpunt in te neem oor of alle Suid-Afrikaners onder die Grondwet werklik gelyk geag word.
Dié uitdaging is gerig na aanleiding van die ANC-jeugliga se aandrang dat grond sonder vergoeding van boere gevat moet word.
Eiendomsreg word beskerm
“Ons neem kennis van en verstaan die onlangse uitlatings oor nasionalisering en grondbesit,” het mnr. Ben Marais, TLU SA se voorsitter, in ’n verklaring gesê.
“Dit beteken nie dat ons as boere goedsmoeds ons grond wat ons deur jare opgebou en bewerk het, aan enigiemand gaan afstaan sonder vergoeding nie. Individuele eiendomsreg word internasionaal erken en beskerm, en elke boer sal daardie reg met hand en tand beskerm,” sê Marais.
Marais sê wat die TLU SA betref, het die ANC ’n streep getrek met hul dreigemente en aanvaarding van dié standpunte.
“Die ANC sal self die gevolge moet aanvaar as hulle met hierdie ‘diefstal’ wil voortgaan, en sal self aan sy mense moet verduidelik as daar ’n kosskaarste sou ontstaan.“
Boere sal hulself verdedig
Marais het ook gesê dat boere hulself binne die bepalings van die wet sal verdedig en gebiedsveiligheid sal bevorder.
“Ons hoef nie toe te laat dat ons grond dalk onwettig beset word en ons lewe en eiendom in gevaar gestel word nie. Ons doen ook ’n beroep op alle boere om na mekaar uit te reik, mekaar se belange te beskerm, met mekaar saam te werk en mekaar te help beveilig,” sê hy.
22 Junie 2011