
TLU SA neem vandag op uitnodiging van me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, deel aan ’n vergadering waar verskeie belanghebbendes Suid-Afrika se energiekrisis bespreek.
“TLU SA staan op vir die landbou en die mense wat dit moontlik maak. Nersa se pasaangekondigde tariefverhoging van 18,65% vanaf 1 April plaas die landbou onder nóg groter druk te midde van beurtkrag en laskrag waar onomkeerbare verliese selfs die heel grootste boere nou in die oë staar.
“Dit versterk beslis die standpunte en versoeke wat ons vandag aan die minister voorlê. Eskom is ’n uitstekende voorbeeld van ’n instelling wat weens transformasie Suid-Afrika se ekonomie en buitelandse beeld knou.”
TLU SA beoog om die volgende punte tydens die vergadering ter tafel lê:
• Die landbou behoort ter wille van voedselsekerheid as ’n noodsaaklike diens beskou te word wat geen beurtkrag mag kry nie. TLU SA versoek die regering om kouekettingboere en boere wat van besproeiing afhanklik is, van beurtkrag vry te skeld of om beurtkrag buite spitstye toe te pas.
• Produsente van kouekettingprodukte kan reeds nie die raklewe van hul produkte waarborg nie. Besproeiingsboere kan nie volhoubaar met diesel produseer nie en sommige aartappelboere moes reeds produksie laat vaar weens die onvermoë om voldoende te besproei.
• Na aanleiding van pres. Cyril Ramaphosa se onderneming dat die kragsituasie sal verbeter, is groot insetkoste reeds aangegaan met die vestiging van gewasse wat nou verdroog. Saaiboere ly hieronder, maar ook wintergewasse en lusern wat gaan meebring dat diere nie die winter gaan oorleef nie.
• Voedseltekorte verhoog misdaad (plunderveldtogte en opstande) en lei tot verdere prysstygings.
• Boere wat minder produseer, laat werkloosheid toeneem.
• Boere moes volgens geskatte syfers vir besproeiingswater registreer. Weens beurtkrag kan hierdie geskatte besproeiing nie plaasvind nie, maar die hoeveelheid water waarvoor geregistreer is, kan nie verminder word nie.
“Ons het ’n punt in Suid-Afrika bereik waar verantwoordelike, aktiewe inwoners besef dat ons op ons eie aangewese is om alternatiewe oplossings te ondersoek en toe te pas. Eskom het Suid-Afrika in die steek gelaat onder druk van die ANC se beleid.
“Son SA, ’n organisasie wat onlangs deur verskeie organisasies gestig is, se beoogde energiekonferensie is ’n stap om alternatiewe krag die primêre kragverskaffer in Suid-Afrika te maak. Eskom moet onder die regering se hande uitkom sodat besigheidsbesluite pleks van die ANC se ideologiese besluite geneem kan word.”
Luidens ’n verklaring deur die landbou-eenheidsforum (Asuf), bestaande uit Agri SA, Afasa, Agda, Vrugte SA, Nafu SA, Saai, TLU SA en die groentewerkgroep, veroorsaak die onsekerheid oor krag ook dat die landbousektor jong en nuwe boere verloor.
“Om verdere sout in die sektor se wonde te smeer, is daar ook die veiligheidsrisiko vir landelike gemeenskappe wat reeds kwesbaar is aangesien misdade gewoonlik tydens beurtkrag plaasvind wanneer elektriese heinings en sekuriteitskameras af is.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.