
Israel word as een van die voorste lande beskou wat tegnologiese ontwikkeling behels en TLU SA skakel voorturend met kenners in dié land oor tegnologie, sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van TLU SA.
Die organisasie is by die konferensie verteenwoordig deur mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder.
“Die omstandighede in Israel het deur die jare veroorsaak dat die Israeli’s die plaaslike landbou-omstandighede optimaal moes ontgin en benut,” sê Meintjes.
Die skakeling met kenners daar het in die verlede reeds baie geleenthede vir TLU SA-lede verskaf om ingeligte keuses te kon maak oor die benutting van tegnologie ter wille van optimale winsgewende produksie. “Tegnologie is ’n gegewe en elke boer behoort dit maksimaal te ontgin sodat ingeligte besluite geneem kan word oor watter tegnologie benut moet word. Dit bly altyd ’n moeilike keuse om werklik te kan onderskei watter tegnologie ’n gunstige verskil gaan maak op die onderste lyn van jou balansstaat.”
Hy sê boere moet waak daarteen om oningeligte besluite te neem en tegnologie in te span bloot omdat dit lekker is om dit te kan hê pleks daarvan omdat dit noodsaaklik is. “Ons is oortuig dat die skakeling met Israel en die onderskeie maatskappye daar vir die Suid-Afrikaanse boere groot voordele kan inhou. Ons is ook vol vertroue dat beproefde tegnologie voortaan al hoe meer tot ons lede se beskikking gestel sal word.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.