
“Met ’n groeiende belangstelling van veral jonger boere en ondersteuners wat nie boere is nie, het ons besluit om ons handelsmerk en aanslag te vernuwe en ’n groter digitale teenwoordigheid te skep deur die nuwe webwerf en deelname op die grootste sosialemedia- platforms,” het mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, gesê.
Volgens hom word 95% van debatte deesdae op sosiale media gevoer en daarom moes hulle daarby betrokke raak. “Die feit dat ons tot dusver vanjaar 1 400 nuwe lede bygekry het, bewys vir ons dit werk. Ons sal natuurlik steeds die formele media ook betrek, maar die klem het verskuif na inligting en bemarking op sosiale media ook.”
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder, het bygevoeg dat byna alle media in elk geval sosiale-medianetwerke benut. “Ons sien ’n balans daarin om alle uitwegte te benut om ons boodskap te versprei. Ons het dit hierdie jaar gedoen en ons pluk die vrugte.”
Nuwe embleem
Die nuwe embleem het ’n blou boog aan die bokant wat die organisasie se geloofsverbintenis beklemtoon, en ’n groen boog onder wat dinamiese groei simboliseer. Die organisasie se naam is nou nét TLU SA (nie meer TAU SA ook nie).
“Ons as boere se mandaat is om vir die land kos te produseer, en tot dusver is daardie mandaat uitgevoer. ’n Handjie vol boere produseer genoeg kos en ons slaag die toets met vlieënde vaandels. Wêreldwyd word ons erken as die beste boere,” het Meintjes gesê. “Vir 122 jaar was TLU SA nóú betrokke en het hy altyd probeer om ’n klimaat te vestig waar boere hul taak suksesvol kan uitvoer. Ons sal nie toelaat dat plaaslike boere gerangeer word tot derderangse burgers nie. Ons sal veg vir die behoud van private eiendomsregte, die vrye mark en ’n Suid-Afrika waar ons in vrede kan saamleef.”
Van Zyl het beklemtoon TLU SA neem standpunt in namens boere, ongeag die regering. “Ons ondersteun geen politieke agenda van enige aard nie. Ons het net een doel voor oë, en dit is om die kommersiële boer veilig en volhoubaar op sy grond te hou. Alles word daaraan gemeet.”
Volgens hom wil die ANC die land na sosialisme en kommunisme neem, en doen dit op ’n glybaan van transformasie. “Dit is ’n tydbom waarop die land sit. Die landbouwaardeketting behoort genoeg wringkrag te hê om ’n verskil te kan maak as ons almal hande vat.” Hy is egter bekommerd dat belanghebbendes in die landbou die ANC se koers afkeur, maar tog gedwee daarmee saambeweeg. Daar moet ’n terugkeer wees na ekonomiese beginsels.
Van Zyl het gesê TLU SA stel die volgende stappe voor vir die land om weer die regte koers in te slaan:
Behou die geloof; wees eerlik oor die rigting waarin die ANC beweeg en die gevare; staan vas by beginsels soos private eiendomsregte en die vrye mark; kommunikeer suiwer rondom dít wat reg is sonder om ANC-besluite na te praat; waak daarteen om dít wat verkeerd is bloot te probeer bestuur; doen deeglik navorsing oor veiligheid, ekonomiese volhoubaarheid, eiendomsregte en waterkwessies; werk positief om beleggersvertroue te herstel.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.