
Die landbousektor het die potensiaal vir grootskaalse werkskepping, maar die nuwe minimum wat op 1 Maart in werking tree, gaan dié potensiaal in die wiele ry, sê TLU SA luidens ’n verklaring.
Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week tydens sy staatsrede die landbousektor as een van die sektore geïdentifiseer wat veral kan bydra tot werkskepping ten einde die land se hoë werkloosheidsyfer aan te pak. TLU SA is egter van mening dat die nuwe minimum loon van R23,19/uur waarskynlik eerder tot werksverliese sal lei.
“Dit is baie jammer dat dié minimum loon ingestel is, veral in die lig van land se hoë werkloosheid en die algemene agteruitgang van die land se ekonomie,” sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Die regering is eintlik veronderstel om elkeen van die wysigings wat toegepas word, te toets om te kyk of dit ekonomiese groei en werkskepping te weeg gaan bring.
“Ons is vasgevang in ’n omgewing wat nie ’n minimum loon kan bekostig nie en daar gaan heel moontlik nog verdere afleggings in die landbousektor wees. Ons is bekommerd dat ons toenemende werkloosheid gaan hê en dit is hartseer om te sien dat die regering se oplossing daarvoor is om nog meer maatskaplike toelaes te betaal.
“Boere moet nou toenemend keuses maak en tegnologie en meganisasie gaan al hoe meer na vore kom. Masjiene stel nie eise nie en staak nie. Jy sit dan sonder hierdie opeisende kultuur wat jy in die arbeidsomgewing beleef, waarmee jy nie deurlopend gebombardeer word nie.”
Hy sê die arbeidsmark moet toegelaat word om homself te reguleer sodat ’n werkgewer ongeskoolde mense teen ’n onderhandelde bedrag in diens kan neem.
“Dit gaan nie oor bekostigbare loon nie, maar wat is bekostigbaar vir die boer. Die landbou kan net tot by ’n punt gaan. As die winsgewendheid van boere weens die hoër koste van die minimum loon in gedrang gebring word, dan kan die boer nie anders as om winsgewendheid te kies nie. Natuurlik sal boere hoër salarisse wil betaal, maar wanneer wins dit toelaat. Tans is dit nie die geval nie.”
Mnr. Henry Geldenhuys, president van TLU SA, wys uit dat werkers in regeringsprojekte en -programme slegs R12,75 per uur betaal word.
“Nou is die vraag, as die regering R23,19 nie as ’n behoorlike minimum loon beskou nie, wat sê hy van die R12,75 wat skaars die helfte is van wat die landbou moet betaal? Die staat verwag van die private sektor wat reeds onder druk is om werk te skep, maar hy is gou om druk op die landbou te plaas.”