
Die Amerikaanse department van finansies het verlede Donderdag die sanksies aangekondig en sê in ’n verklaring die sanksies toon die Amerikaanse regering se onwrikbare verbintenis daartoe om die oppergesag van die reg en verantwoordbaarheid in Suid-Afrika te steun. Hy loof burgerregte-organisasies, fluitjieblasers en joernaliste wat die omvang van die Guptas se korrupsie oopgevlek het.
TLU SA vra Amerika om hierdie verbintenis konsekwent toe te pas en ook ferm op te tree teen die ANC-regering wat nie daarin slaag om wet en orde in die land te handhaaf nie.
Mnr. Louis Meintjies, president van TLU SA, sê daar is verskeie korrupte staatsamptenare en beleidstukke wat wet en orde in die land bedreig en ook ondersoek behoort te word. Hy sê die voorgestelde wysigings aan die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding deur te voer en korrupsie rondom grondherverdeling is voorbeelde van ANC-aksies wat ’n ernstige bedreiging vir die ekonomie inhou.
“TLU SA sal voortgaan om ook ondersteuning vanuit die buiteland te werf om druk op die regering toe te pas om nie kortsigtige beleide tot nadeel van die ekonomie en ons inwoners te volg nie,” sê hy.
Mnr. Ronald Lamola, Suid-Afrika se minister van justisie, verwelkom ook Amerika se stappe.