
“Ons is baie bekommerd oor die langdurige finansiële druk waaronder heelwat boere gebuk gaan,” sê mnr. Louis Meintjies, president van TLU SA.
“Daar is die afgelope paar jaar in veral sekere distrikte deurlopend uiterste klimaatstoestande wat die winsgewendheid van die produsent onder kwaai druk plaas.”
Meintjies sê in die landbou dra die primêre produsent, die boer, die meeste risiko in die produksieproses.
Boere moet hul grond as sekuriteit beskikbaar stel om finansiering te bekom. “Indien daar weens byvoorbeeld droogte nie ’n opbrengs is nie, dra hulle die risiko alleen. Ná ’n paar jaar se misoeste word die situasie vir boere onhoudbaar. Hulle bly in die skuld by die verskillende finansiële instellings en insetmaatskappye.”
Waardeketting
TLU SA meen die hele waardeketting behoort in die risiko te deel.
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, wie se lede banke en landboubesighede insluit, het by navraag gesê die organisasie is bekommerd oor die finansiële volhoubaarheid van sekere boere in bepaalde gebiede en streke.
“Die kommer geld veral vir boere in sekere sentrale en westelike graangebiede waar droogtes die afgelope vyf jaar balansstate erodeer. In sekere ekstensiewe veeboerderystreke in die Karoo en Oos-Kaap is boere ook onder druk, maar die omvang is redelik beperk.”
Purchase sê ’n algemene gesprek tussen Basa en organisasies wat boere verteenwoordig, is seker moontlik, maar dat die presiese nut daarvan bevraagteken moet word.
“Finansiële instellings (banke en landboubesighede) het bepaalde kredietbeleide en -kriteria en pas dit streng toe. Elke kliënt word individueel volgens hierdie beleid en kriteria hanteer, juis omdat elkeen se omstandighede uniek is,” sê Purchase.Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.