‘n Saak gaan teen Polisiebeamptes in Noordwes by die Menseregtekommissie (MRK) en die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) ingehandig word, sê die TLU SA.
Luidens ‘n mediaverklaring meen die organisasie Polisiebeamptes het hul pligte versuim deur toe te laat dat plakkate waarop boere gevloek en beledig word, by die hof op Ottosdal vertoon word.
Die plakkate is volgens die organisasie onlangs deur ondersteuners van Cosatu vertoon tydens die verskyning van mnre. Willem Grobbelaar, Daniël Dupper, Willie Pienaar, Andries Senatle en Dawid Melamu, wat aangekla word van die moorde van Ezekiël en Phillip Letlakane.
Onskuldig tot anders bewys
“Ons keur geen aanranding of erger deur boere op enigiemand goed nie. Die feit is dat enige persoon onskuldig is totdat hy bo redelike twyfel skuldig bevind is deur ‘n bevoegde hof. Daarom kan ons dit geensins goedkeur nie. Dit skep ‘n klimaat vir verdere terreur teen boere soos wat tans plaasvind,” sê mnr. Ben Marais, voorsitter van die TLU SA.
Marais vra waar dié opstokers was toe mnr. Andrew Fourie, ‘n artritisleier van Vaalwater, ‘n paar weke gelede met ‘n broekriem deur sy huis gesleep en aangerand is. Hy is twee weke na die aanval oorlede aan sy beserings.
“By elke hof is daar Polisiebeamptes, en hulle het hul plig versuim deur nie die opruiende plakkate te verwyder nie. Die saak gaan verder gevoer word, na die Menseregtekommissie en die Onafhanklike Klagtedirektoraat,” sê Marais.
3 Desember 2010