
Klimaatmodelle projekteer dat klimaatsverandering vanaf die 2030’s al hoe sterker word, met droër en warmer seisoene wat beleef sal word.
Prof. Francois Engelbrecht, klimaatmodelleerder in langtermyn-klimaatsverandering by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), sê die landbousektor sal versigtig na projeksies moet kyk en tyd opsy sit vir sy dekade- tot multidekadebeplanning.
“Ons kan reeds in die weerdata sien dat hierdie veranderings besig is om te gebeur en ons modelle projekteer die tempo waarmee die veranderings gaan toeneem. Vanaf die 2030’s raak dit so erg dat ons sê die klimaatsveranderingseine raak oorheersend. Dit begin die natuurlike variasie in klimaat oorheers. Jy begin ’n toestand ingaan waar elke jaar warmer is.”
Hoewel die langtermynvooruitsigte nie goed lyk nie, maak die voorspellings dit moontlik dat boere hulle kan gereedmaak om by die veranderende omstandighede aan te pas.
Probleme vir die Wes-Kaap
Die langtermyn-vooruitsigte vir reënval in die suidelike dele van die Wes-Kaap lyk kommerwekkend vir die volgende dekade. Dit word geprojekteer dat die streek al hoe droër en warmer sal word. Die streek is een van die mees sensitiewe gedeeltes van Suid-Afrika in terme van klimaatsverandering.
Engelbrecht sê teen die einde van die eeu sal die streek heeltemal ’n ander plek wees as wat dit vandag geken word. “Daar word geprojekteer dat die gemiddelde temperature drie tot vyf grade Celsius hoër gaan wees as wat dit vandag is.
“Klimaatmodelle wys ook ’n drastiese verlaging in reënval teen die einde van die eeu.
“Dit kan ’n afname van 10% tot soveel as 40% wees.” Engelbrecht sê ’n groot bekommernis is die impak op die fynbos en brande in die fynbos. Hy verduidelik dat die natuurlike landskap aangepas is by winters wat nat en koel is.
Maar nou is die winters besig om droër en warmer te word, wat ’n toestand skep vir die meer gereelde voorkoms van brande. Brande kan die biodiversiteit in die fynbos bedreig as dit meer gereeld voorkom. Dit het ook die potensiaal vir geweldig skade aan eiendom en die landbousektor self.
Landbou
Die wyn- en koringbedryf sal die klimaatsveranderinge fyn moet dophou, meen Engelbrecht. Hoë temperature is nie goed vir die gehalte van wyn nie en met die drastiese stygings in temperatuur is sommige boere reeds besig om aan te pas.
Wingerde word geskuif na hoër gedeeltes op die plaas waar dit koeler is. Hy stel voor dat wynboere versigtig moet kyk na helling, hoogte bo seespieël en grondsoort, gegewe die feit dat dit al hoe warmer word.
Die algemene veranderings van drastiese verlagings in reënval, meer seisoene met droogtes en toename in temperatuur, is ook nie goeie nuus vir die koringbedryf nie. In die jare tagtigs was daar ’n stewige koringbedryf in die Oos-Kaap, maar weens faktore wat klimaatstoestande insluit, het menige boere na sigorei of vleisbeeste oorgeskakel.
Prof. Willem Landman, professor in meteorologie aan die Universiteit van Pretoria, se raad is dat boere die inligting van die moontlike weerstoestande as inset gebruik. “Boere is bitter intelligent. Hulle het talle aspekte wat hulle moet oorweeg en gaan nie die hele besluitnemingsproses baseer op die voorspelling van die seisoen nie.
“So baie van die sterk kommersiële boere en selfs kleiner boere wat intelligent boer, gebruik reeds weerstoestande as ’n inset,” sê Landman.
Kyk hier na 'n video waar Landman gesels oor die voorspelling vir die komende winter.