
Die landbousektor het dié bydrae behaal ten spyte van verskeie terugslae, onder meer die aansienlike impak van die vloede in KwaZulu-Natal, die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, en die uitbreking van bek-en-klouseer wat ’n tydelike verbod op uitvoer na China van produkte van diere met gesplete hoewe tot gevolg gehad het.
Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Agribesigheid, sê danksy die landbousektor se veerkragtigheid sal die sektor vir die afsienbare toekoms aanhou om goed te presteer. “Ons is steeds in die La Niña-klimaatsfase, wat beteken dat die goeie reënval van die afgelope maande regdeur die winterseisoen sal voortduur, waarskynlik selfs tot die sektor se spitsseisoen.”
Volgens hom is die vooruitsigte vir die somergraanseisoen steeds baie gunstig met rekordoeste vir sonneblomme, sojabone en mielies. Die grootste kommersiële somergraan- en oliesaadoes was bykans 18 miljoen ton. “As in ag geneem word dat die plaaslike mielieverbruik gewoonlik bykans 12 miljoen ton is, is reserwevlakke en die potensiaal vir uitvoer baie goed.”
Oorlog tussen Rusland en Oekraïne bied geleenthede
Die landbousektor se prestasie hang egter van veel meer af as goeie reënval en weersomstandighede. Volgens Makube is daar ’n aantal faktor wat ’n goeie en slegte impak op die sektor se prestasie se prestasie vir die res van die jaar sal hê. Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne sal volgens hom waarskynlik die grootste impak hê.
“Terwyl dit moeilik is om te dink dat enigiets goed uit dié katastrofiese oorlog kan kom, is die werklikheid dat die gevolge daarvan vir Suid-Afrika se landbousektor ’n kombinasie van goed en sleg is. Dit sal waarskynlik aanhou om die geval te wees namate die wêreld toenemend ’n uitgerekte konfliksituasie in die streek verwag.”
Aan die een kant het die vloei van produkte na Rusland en Oekraïne tot stilstand gekom, aansienlike gevolge het vir alle lande wat landboukommoditeite aan dié twee lande verkoop. Suid-Afrika tel onder hierdie lande, maar nie tot so ’n groot skaal dat die onderbreking ’n massiewe, noemenswaardige ongunstige impak op die landbousektor se uitvoer gehad het nie, sê Makube. Vir die uitvoerders wat steeds die geleentheid gehad het om produkte na Rusland uit te voer, het die groot toename in vraag gelei tot goeie pryse vir landboukommoditeite.
Volgens Makuba sal vraag na bekostigbare landbouprodukte in albei lande in die toekoms drasties toeneem namate uitvoerverbiedinge deur baie van hul belangrike voorsieningstreke ingestel word. “Terwyl dit geleenthede vir Suid-Afrika se landbou-uitvoer bied, sal die mate waartoe uitvoerders hierdie geleenthede benut, afhang van hul vermoeë om logistieke struikelblokke uit die weg te ruim en betaling te verseker van invoerders in die oorloggeteisterde streek.”
Impak van vragkoste bepalend vir landbou-uitvoer
Nog ’n noemenswaardige faktor wat volgens hom bepalend vir landbou-uitvoer sal wees, is vragkoste. “Algemene vragkoste neem die afgelope paar maande skerp en bestendig toe as gevolg van skerp stygings in brandstofpryse, maar ook algemene prysstygings wat vrag en logistieke verskaffers wêreldwyd ingestel het.
“Indien dralende bottelnekke in die globale voorsieningsketting weens die covid-19-pandemie, wat steeds nog nie opgelos is nie, daarby gevoeg word, word dit duidelik dat die kompleksiteit en koste van vragte die potensiaal het om ’n ongunstige impak op landbou-uitvoer in die komende maande en jare te hê.”
Nog ’n aspek van Suid-Afrika se vragprobleme is volgens hom dat sowat 41% van landbouprodukte reg oor Afrika uitgevoer word. “Terwyl dit nie uitvoerders teen stygende vrag- en brandpryse beskud nie, skep dit geleenthede vir verstandige uitvoerders om ’n sterker, meer veerkragtige voorsieningsketting vir uitvoer te bou wat grotendeels beskerm is teen die invloed van internasionale vragprobleme.”
Die ondertekening van die Afrika-vryhandelsgebied (AfCTA), wat daartoe gelei het dat vry handel op die vasteland amptelik in Julie 2020 begin het, sal uitvoerders volgens hom toenemend help om hulself veerkragtiger te maak en winsgewende bedrywighede reg oor die vasteland te onderneem.
“Onmiddelike uitvoermoontlikhede, in Afrika en wêreldwyd, bly steeds goed met ’n verwagte 160 miljoen ton produkte wat waarskynlik hierdie seisoen vir uitvoer verpak sal word. Dit verteenwoordig op ’n jaargrondslag ’n toename van 2,4 miljoen ton teenoor verlede jaar.”
Wisselkoers steun goeie marges
Die rand se wisselkoers teenoor die meeste groot geldeenhede is volgens Makube gunstig vir goeie marges, wat hopelik die druk van stygende globale inflasionêre omgewings sal verlig. Wat veral sitrus betref, sal die onlangse ooreenkoms met China wat uit- en invoerprotokolle betref op lang termyn ’n gunstige impak op die uitvoervolumes van sitrus hê.
Makube meen veral die oorlog tussen Rusland en Oekraïne globale handelsvennote op langer termyn sal dwing om te konsentreer op die skep van ’n meer oop en regverdige internasionele handelslandskap.
“Daar word gehoop dat dit as katalisator kan dien om globale houdings te verskuif na die verwydering van onregverdige tariefregimes, waarvan sommige steeds ’n beperking op Suid-Afrika se mededingendheid in verskeie uitvoermarkte plaas. ’n Voorbeeld hiervan is die Europese Unie se onlangse regulasie om valskodlingsmot deur kouesterilisasie te beheer. Dit ten spyte van die sitrusbedryf se bestaande rigiede risikobestuurstelsel en wetenskaplike bewyse.
“Indien hierdie verskuiwing plaasvind, sal dit nie net meer toeganklike markte en globale toestande wat uitvoer steun tot gevolg hê nie, maar ook verdere aanmoediging wees vir die toepassing van innoverende, digitale landboustelsels wat gedurende die covid-19-pandemie ontstaan het. Só ’n kombinasie sal sonder twyfel ’n baie gunstige impak op die landbousektor se uitvoer hê en voortbou op die sterk fondasies wat veral die afgelope paar jaar gelê is.”