Mnr. Gerhard van der Burgh, datawetenskap en stelselintegrasiebestuurder by die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) sê sedert die vroeë 1960’s het mynbou en die landbou albei ’n groot rol in die groei van Suid-Afrika gespeel. “Mynbou is by verre die sterkste groeier, maar uit ’n voedselsekerheidoogpunt is die landbou ook uiters belangrik. Suid-Afrika is onder meer ‘n netto uitvoerder van mielies, wat beteken dat die landbou ’n mededingende voedselprys vir Suid-Afrikaners kan gee. In ’n land waar hulpbronne beperk is, is albei bedrywe dus belangrik.”
BFAP het reeds in 2012 ’n studie gepubliseer oor die impak van mynbou op veral landbougrond in Mpumalanga en het sy verslag daarna weer in 2015 bygewerk. Van der Burgh sê die hoeveelheid bewerkbare grond waar mielies, sojabone of sonneblomme verbou kan word en waarop mynbou ’n direkte impak het, is nasionaal sowat 500 000 ha.
“Daardie syfer groei natuurlik deurentyd. Eintlik het ons nie ’n idee hoeveel prospekteringsgrond uiteindelik in eienaarskap van mynbou oorgeskakel word nie. Dit is dikwels weens die gaping tussen verskillende departemente wat oor registrasies moet kommunikeer.”