
Mnr. Willem de Chavonnes Vrugt, herkose voorsitter van die organisie, het in sy boodskap op die kongres in Klerksdorp gesê die digitalisering van die insameling van betroubare inligting gaan die proses van deelname aansienlik vir lede vergemaklik.
“Ons het ’n diensverskaffer opdrag gegee om vir ons ’n aanmeldingstoepassing te ontwikkel. Dit beteken alles sal sonder papiere op jou foon kan gebeur. Jy sal byvoorbeeld jou foon kan gebruik om ’n padprobleem aan te meld. Jy sal ’n pin kan drop waar die probleem is, foto’s kan oplaai en ’n kort beskrywing van die probleem kan gee.
“Dit alles sal gedoen kan word wanneer jy op die toneel van die probleem is, of in ’n latere stadium as die netwerk dit nie toelaat om dit op ’n spesifiek plek te doen nie. Die verslag sal dan aan die betrokke lid se landbouvereniging en Agri Noordwes gestuur word. Ons sal mettertyd detailverslae kan saamstel oor onder meer paaie, netwerke, kragvoorsiening en polisiedienslewering.”
Die deurgee van betroubare inligting versterk die hande van verteenwoordigers en personeel in hul soeke na oplossings.
Die tema van De Chavonnes Vrugt se boodskap wat dat vennootskappe en mense se betrokkenheid baie belangrik is. Hy het die hutsmerkfrase #Joudeelnamemaakdieverskil gebruik.
Volgens hom het Agri Noordwes ’n trotse geskiedenis van vennootskappe, waarvan die belangrikste dié is wat hy met sy lede en hul onderskeie verenigings het. De Chavonnes Vrugt het benadruk dat lede se bereidwilligheid om tyd en geld by te dra, ’n vereniging help om doeltreffend te wees.
Agri Noordwes het ook vennootskapverhoudings met ander organisasies in die Agri SA-stal en werk verder saam met organisasies buite die stal om waarde te ontsluit, soos TLU SA, Saai en Manna vir die Boere.
De Chavonnes Vrugt het Agri Noordwes se personeel bedank en gesê hulle het ’n moeilike taak omdat die provinsie se werkloosheidsvlak van die hoogste is en sy bestuur baie swak is weens staatskaping.
Wat beurtkrag betref, het die personeel aanvanklik baie sukses behaal rakende ladingverminding, maar Eskom het minder toeganklik geword namate die nasionale kragkrisis vererger het.
Die organisasie se veiligheidskomitee behaal groot suksesse deur ’n forum wat gestig is om die polisie en die nasionale vervolgingsgesag beter met mekaar te laat kommunikeer.
“Ons is vol moed dat daar meer skuldingsbevindings in die volgende jaar gaan plaasvind.”
Onwettige betreding en besetting is ernstige kwessie en die organisasie werk saam met sy plaaslike verteenwoordigers, individue en organisasies in dié verband.
*Mnr. Cobus Van Zyl is tot ondervoorsitter herkies en mnr. Gideon Van Zyl is vir die eerste keer tot tweede ondervoorsitter verkies.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.