
Die sakeredders Metis Strategic Advisors, wat die reddingsaksie lei, het ook aansoek gedoen om die plan vir Tongaat Hulett Suid-Afrika en Voermol eers teen einde Junie beskikbaar te maak, is Donderdag in ’n verklaring aangekondig. Dit is hul derde versoek tot uitstel.
Die nuus oor die eis wat Tongaat ingestel het teen Deloitte, sy vorige ouditeure, is ook bekendgemaak. Dié twee maatskappye het tot ’n vergelyk gekom oor die eis, wat spruit uit die aanstelling van Deloitte as Tongaat se ouditeure vir die boekjare wat strek van 31 Maart 2012 af tot 31 Maart 2018.
Volgens die skikking gaan Deloitte R260 miljoen aan Tongaat uitbetaal sonder enige skulderkenning.
Onder Deloitte se wakende oog as ouditeure het grootskaalse wanadministrasie by Tongaat plaasgevind. Dit is selfs al beskryf as die tweede grootste rekenkundige skandaal naas die Steinhoff-sage. Dit het uiteindelik bygedra tot die maatskappy se skuldlas.
Einde Februarie vertrek mnr. Gavin Hudson, Tongaat se uitvoerende hoof, nadat hy onlangs aangekondig het hy verlaat die maatskappy. Hy het in 2019 die leisels oorgeneem toe die enorme skuldlas van meer as R11 miljard die maatskappy reeds in ’n wurggreep gehad het. Onder Hudson se leierskap het ’n skuldherstruktureringsplan die skuldlas tot die huidige sowat R6,5 miljard verminder.
Skuldeisers was egter nie ten gunste van hoe die plan gevorder en aangebied het nie. Die suikerreus het uiteindelik in Oktober aangekondig die maatskappy gaan vrywillig in sakeredding.
Luidens ’n verklaring oor die uitstel van die bekendmaking van die sakereddingsplan het die versoek geen impak op huidige bedrywighede nie. “Die vertraging het ook geen beduidende impak op die sakereddingsproses of die koste daarvan nie. Instandhouding wat buite seisoen plaasvind, vorder goed en bedrywighede is op dreef om die 2023-’24-suikerseisoen te begin.”
Gesprekke en onderhandelings met verskeie belanghebbendes is aangebied as van die redes vir die uitstel. “Indien die plan nou met die inligting ter tafel bekendgemaak word, sal dit een wees wat bespiegeling en onvolledige detail bevat.”
Krediteure stem vandag oor die versoek tot uitstel.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.