
In ’n verklaring wat Donderdagoggend op die JSE se nuusdiens Sens uitgereik is, sê die groep dat hy ondanks goeie vordering met sy skuldherstrukturering nie sy oorblywende skuld kan terugbetaal nie.
Die maatskappy sê 87% van sy oorblywende skuldlas van R6,3 miljard moet betaal word uit bronne soos die kontantvloei wat sy Suid-Afrikaanse suikerbedrywighede lewer, sy eiendomsbesigheid en die dividende en bedryfstariewe uit sy ander bedrywighede wat nie met suiker verband hou nie. Maar ’n aantal ongunstige bedryfsfaktore het tot ’n tekort in sy werkskapitaal gelei en sy finansiële posisie hou aan verswak. Die ongunstige faktore is onder meer swak vertonings by sy suikermeulens en die vloede en onluste in KwaZulu-Natal in, asook probleme om die inkomste uit sy Mosambiekse bedrywighede terug na Suid-Afrika te laat vloei.
Die groep is sedert 2019 in ’n oorlewingstryd gewikkel nadat ’n forensiese ondersoek deur PwC ’n boekhouskandaal deur die voormalige uitvoerende bestuur blootgelê het.
Die JSE het die groep se notering in Julie vanjaar tydelik opgeskort omdat hy nie sy jaarstate tot einde Maart 2022 voor die sperdatum kon indien nie. Twee weke gelede het Tongaat Hulett in ’n verklaring gesê sy direksie het die groen lig gegee vir ’n herstruktureringsplan en dat hy aanhou onderhandel met sy krediteure.
Nou lyk dit egter asof die krediteure nie te vinde was vir die herstruktureringsplan nie en hulle geld wil terughê. Die groep het Metis Strategic Advisors as sy sakereddingspraktsyn aangestel en die praktisyns sal binne die volgende twee weke met werknemers en krediteure vergader.
Die sakeredding raak nie sy bedrywighede in Mosambiek en Zimbabwe nie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.