
Dié prestasie is steeds 55% laer as die vlakke waarop die aandeelprys verhandel het voor Tongaat Hulett se boekhouskandaal vroeg in 2019 op die lappe gekom het.
Die maatskappy se inkomste vir die boekjaar tot einde Maart het met 18% tot R15,4 miljard gestyg en sy bedryfswins met 491% tot R3,3 miljard, vergeleke met ’n jaar tevore. Kontantvloei uit sy bedrywighede het met 62% tot R2,1 miljard verbeter teenoor R1,3 miljard in die vorige boekjaar. Sy wesensverdienste per aandeel het met 111% per aandeel tot 90c gestyg, teenoor die vorige jaar se verlies van R9,48 per aandeel. Geen dividend is verklaar nie.
As die prestasie van die stysel-en-glukose-afdeling (waarvan Voermol deel is) buite rekening gelaat word, is daar steeds ’n wesensverlies van R2,12 per aandeel. Dit is egter kleiner as die vorige ooreenstemmende tydperk se wesensverlies van R13,52 per aandeel. Dié afdeling word verkoop om die maatskappy se skuldlas te help delg. In September 2019 was die skuldlas R13 miljard en Tongaat wil dit teen Maart 2021 tot R8,1 miljard verlaag.
In Februarie vanjaar is aangekondig dat Barloworld die styselafdeling vir R5,3 miljard gaan koop. Teen Mei het Barloworld probeer kop uittrek en beweer dat Covid-19 intussen ’n wesenlik ongunstige verandering in die styselafdeling se waarde veroorsaak het, wat hom toelaat om die transaksie te kanselleer. ’n Onafhanklike arbiter sal binnekort uitsluitsel oor die dispuut gee.
“Tongaat Hulett se verbeterde resultate weerspieël die stappe wat gedoen is om die onderneming te stabiliseer en te herstruktureer sodat dit meer winsgewend en volhoubaar sal word,” sê mnr. Gavin Hudson, uitvoerende hoof.
Hy sê die fundamentele herstrukturering wat deur die finansiële krisis genoodsaak is, asook ’n omvattende hersiening van beleid en prosesse het sy maatskappy in staat gestel om Covid-19 en ander probleme beter te oorleef.
Die groep se aandeelprys het in die week nadat die resultate aangekondig is, begin verbeter en verhandel nou op vlakke wat tot 20% beter is as voordat die verbeterde syfers bekend gemaak is.
In Junie vanjaar het die JSE die maatskappy ’n boete van R7,5 miljoen opgelê omdat sy finansiële state van 2011 tot 2018 vals inligting bevat het. Hudson het aan Moneyweb gesê siviele en strafregtelike vervolging teen verskeie lede van die voormalige uitvoerende leierskap gaan voort. Die maatskappy verwag om binne ses maande van die nasionale vervolgingsgesag te hoor of hy diegene wat by bedrog betrek is, gaan aankla.