
Die groep, wat deur ’n boekhouskandaal in geldelike moeilikheid gedompel is, veg hard terug om teen Maart 2021 sy skuld met R8,1 miljard te verminder. Dié planne het egter onlangs ’n terugslag gekry toe Barloworld probeer kop uittrek het uit die voorgenome transaksie van R5,3 miljard om Tongaat Hulett se styselafdeling te koop.
Die verkoop van Tambankulu Estates sluit twee besproeiingsplase in die noordooste van Eswatini in waar 3 767 ha suikerriet verbou word. Die koper is PSPF, Eswatini se staatsdienspensioenfonds. Dis die grootste onafhanklike suikerrietplaas in Eswatini en lewer ’n gemiddelde jaarlikse opbrengs van 125 ton per hektaar, luidens ’n verklaring wat die maatskappy Woensdag uitgereik het.
Die transaksie behoort teen 1 Desember 2020 afgehandel te wees.
“Ons hoogste prioriteit is om die stabiliteit van Tongaat Hulett op lang termyn te verseker en daarom moet ons skuld so gou as moontlik afbetaal word,” het mnr. Gavin Hudson, uitvoerende hoof, die beweegrede vir die verkoop verduidelik.
“Tambankulu is ’n goed bestuurde onderneming van hoë gehalte wat nie van kernbelang vir ons groter suikerbedrywighede is nie. Hierdie was ’n redelike aanbod gegrond op ’n deeglike noulettendheidsondersoek en PSPF word as ’n sterk strategiese vennoot vir die toekoms beskou.”
As deel van Hudson en die direksie se omdraaistrategie word bates verkoop om minstens 60% van sy skuld van R13 miljard teen volgende Maart te delg.
Dié strategie was goed op koers toe in Februarie aangekondig is dat Barloworld Tongaat Hulett se styselbedrywighede vir R5,3 miljard sal koop. Die transaksie is egter in die weegskaal nadat Barloworld in Mei aangekondig het hy glo Covid-19 het ’n wesenlik ongunstige verandering in die waarde van die styselafdeling veroorsaak, wat hom van plan laat verander het. ’n Onafhanklike arbiter sal binnekort uitsluitsel oor die dispuut gee.
“Ons is vol vertroue oor die toekoms van Tongaat en glo die verkoop van Tambankulu sal die groep verder vir volhoubaarheid op lang termyn posisioneer en waarde vir aandeelhouers skep,” sê Hudson.