
Dringende stappe is aangekondig om suikerrietprodusente, werkers en diensverskaffers aan die noordkus van KwaZulu-Natal teen finansiële verknorsing te beskerm.
Die sakeredders, Metis Strategic Advisors, en lede van die Suikerrietkwekersvereniging het Dinsdag ooreengekom oor hoe noodsaaklike kwessies wat nou opduik weens die suikerreus se sakereddingsproses uitgestryk gaan word.
Korttermynbetalings vir riet wat reeds gelewer is, gaan binnekort gemaak word; nie net aan kleiner produsente nie, maar ook aan kommersiële boere en diensverskaffers in die suikerbedryf se waardeketting.
Só gaan betalings geskied
“Kwekers vereis betaling voordat hul weer riet aan Tongaat verskaf. Sodra die uitstaande Oktober-betalings gemaak is, sal produsente weer riet aan die Felixton-, Maidstone-, en Amatikulu-meulens lewer. Só kan Tongaat sy bedrywighede by sy meulens en raffinadery voorsit en kontantvloei aanhelp,” sê mnr. Andrew Russell, voorsitter van die Suikerrietkwekersvereniging.
Hy sê kommersiële produsente wat nog nie betalings ontvang het vir riet wat in September gelewer is nie, sal teen Vrydag 11 November betaal word. Die meeste kommersiële produsente het egter volgens hom reeds hul betalings ontvang wat einde Oktober betaalbaar was.
Kleiner produsente wat suikerriet gedurende Oktober gelewer het, sal teen einde November, wanneer hulle gewoonlik betalings sou ontvang, hul geld kry.
Kommersiële boere sal vir hul riet in Oktober gelewer volgens ’n paslike, ooreengekome skedule betaal word, hoewel dit in fases sal geskied.
“Die vereniging het ook benadruk hoe belangrik dit is om betalings aan diensverskaffers, soos kontrakteurs en vervoermaatskappye, te maak. Sonder hulle kan die produsente nie hul bedrywighede voortsit nie. Die sakeredders het bevestig uitstaande betalings aan die diensverskaffers sal ook vandeesweek geskied saam met betalings aan kommersiële produsente,” sê Russell.
Kommersiële boere maak toegewings
Kommersiële produsente se gebaar om afstand te doen van die rente waarop hulle geregtig is weens laat betalings, is ook bekend gemaak. Hulle doen dit omdat hulle besef hoe benard is Tongaat se posisie. “Hulle doen dit ook in belang van ander rolspelers wat deur Tongaat se sakeredding geraak word,” sê Russell.
Krisis nie verby
Hy waarsku egter die krisis in die bedryf is nie afgeweer nie. Russell sê die risiko is steeds daar dat die maatskappy nie sal slaag in die sakereddingsproses nie.
“As dít gebeur, sal die bedryf net weer in ’n krisis gedompel word. Ons sal moet wag om te sien of Tongaat geld sal hê om onderhoud aan sy meulens te doen wat nodig is om die volgende seisoen in bedryf te bly.”
Sakeredders ontmoet met krediteure
Intussen het die sakeredders Dinsdag met Tongaat se krediteure vergader en hulle ingelig oor die stand van die maatskappy en hoe die sakereddingsproses vaar.
Een van die dringende sake wat aangeroer is, was juis oor hoe dringende betalings aan noodsaaklike produsente, krediteure en verskaffers sal geskied. Luidens ’n verklaring oor die vergadering sal die sakeredders voortgaan om bykomende geld te soek.
Die sakeredders wil ook hê krediteure moet hulle tot einde Januarie 2023 gee om hul plan voor te lê. Krediteure se besluit oor hierdie versoek sal teen Vrydag bekend wees.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.