
Dié aankondiging oor die beleërde suikerreus se vrywillige aansoek is Vrydagoggend op die JSE se nuusdiens aangekondig.
Tongaat Hulett sê dit is nie op die oomblik moontlik om sy voorlopige state of geouditeerde resultate vir die 2022-boekjaar teen einde Julie af te handel nie.
Die direksie het die JSE dus genader met ’n versoek tot vrywillige tydelike opskorting van die verhandeling van sy aandele. Die JSE moet nog sy besluit hieroor bekend maak.
Aandeelhouers is reeds op 15 Junie ingelig oor Tongaat Hulett se onvermoë om sy voorlopige finansiële jaarresultate vir die boekjaar tot einde Maart teen 30 Junie bekend te maak.
Die maatskappy het ook aangekondig ’n nuwe herstruktureringskomitee is saamgestel. Mnr. Piers Marsden is as Tongaat Hulett se herstruktureringshoof aangewys. Die herstruktureringskomitee moet ’n omvattende plan saamstel wat die maatskappy se likiditeitsvlakke kan verbeter en skuld tot volhoubare vlakke verminder.
In ’n verklaring oor die aansoek sê mnr. Gavin Hudson, uitvoerende hoof van Tongaat Hulett, die opskorting van verhandeling is “ ’n suiwer prosedurele besluit wat aandeelhouers en belanghebbendes sal beskerm terwyl ons aan ons herstruktureringsplanne werk.”
Volgens hom is ’n langertermyn-likiditeitsfasiliteit nodig voordat Tongaat Hulett se geouditeerde finansiële jaarresultate vir die boekjaar tot einde 31 Maart gefinaliseer kan word. Dié is egter grootliks afhanklik van die uitkoms van die herstruktureringsplan.
Hudson sê genoeg tyd en hulpbronne is nou nodig om dié plan te voltooi. “Die maatskappy is reeds in die finale fase van onderhandeling met ’n Suid-Afrikaanse lener om Tongaat Hulett se seisoenale oortrokke fasiliteit met ’n groter, korttermyn- ‘leen-gebaseerde’ likiditeitsfasiliteit te vervang,” sê Hudson.
“Vordering met ’n herstruktureringsoplossing sal nie net die maatskappy se toekoms op lang termyn help verseker nie, maar ook dié van die halfmiljoen mense reg oor die land wat van Tongaat Hulett afhanklik is.”
Skuldlas en regte-uitgifte
Die maatskappy sit met ’n skuldlas van ongeveer R6,8 miljard. Die aanbod van regte-uitgifte ter waarde van R5 miljard is uitgestel nadat probleme opgeduik het toe die oornameregulasiepaneel teen ’n resolusie van aandeelhouers beslis het.
Magister Investments se aanbod van R2 miljard het berus op die resolusie wat deur aandeelhouers goedgekeur is, om die verpligte aanbod aan aandeelhouers vir die res van die aandele te laat vaar. Die onderskrywingsooreenkoms met Magister is intussen beëindig.
“Hierdie besluit is nie ligtelik geneem nie. Die direksie besef sommige beleggers en potensiële beleggers sal dalk verkies om aan te hou handel dryf, maar dit is die direksie se siening dat ’n tydelike opskorting in die beste belang van Tongaat Hulett en belanghebbendes is. Dit sal ook beleggers en potensiële beleggers beskerm.”
Volgens Vrydag se verklaring moet die herstruktureringskomitee se plan teen 30 September aan Tongaat Hulett se direksie voorgelê word. Hudson sê ’n tydelike opskorting sal geen wesenlike impak op die maatskappy se finansiële stabiliteit of sy sakebedrywighede hê nie.
“Indien die JSE besluit om die notering van die maatskappy se aandele tydelik op te skort, sal Tongaat Hulett so gou as moontlik aansoek doen vir die opheffing daarvan ná die vrystelling van die geouditeerde finansiële state vir 2022.”