Die beste Kersgeskenk, is hoe me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, die Pro-Agri Forum se bereidwilligheid beskryf om hul uitgebreide boerderykennis aan haar oor te dra.
Dié forum, wat wenners van Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar-kompetisie verteenwoordig, het in Pretoria met haar vergader en hul kundigheid aangebied. Sy was verheug dat sy hulle voortaan as klankbord kan gebruik en het gevra die forum moet deel van haar landbou-advieskomitee word.
Die forumlede op die vergadering was mnre. Andries Pienaar (medevoorsitter), Chris Rossouw, Fred Visser, Bernhardt du Toit, Gerdie Landman en Gerrit van der Merwe.
Pienaar sê sy kan hulle enige tyd bel om hul kundigheid te tap. ’n Profiel van elke lid sal aan haar verskaf word. Joemat-Pettersson sê indiensopleiding is op plase nodig om opkomende boere te help. Die vorming van boergroepe as hulpmiddel vir nuwe toetreders tot die landbou is een van haar ideale.
Só kan gevestigde kommersiële boere nuwe boere mentor en vaardighede vestig.
Die landbou is vir die Regering ’n voorrangsaak naas die verbetering en skepping van infrastruktuur. Daarom vergader sy eersdaags met twaalf ander departemente om die ontwikkeling van die landbou en die verwerking van landbouprodukte te bespreek vir die skepping van werksgeleenthede en die bevordering van voedselsekerheid.
7 Desember 2010