
Sedert verlede jaar het meer tradisonele leiers grond begin uitwys vir landbouproduksie en sommige het reeds die hand opgesteek om die landbourevolusie te lei. Hoofman Sipho Mahlangu, voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers, het selfs na alle provinsies gereis om tradisionele leiers se ondersteuning te werf vir die landbourevolusie. ’n Spesiale grondberaad vir tradisionele leiers word vir vanjaar beplan.
Ramaphosa het in sy toespraak die rol wat tradisionele leiers met betrekking tot regeringstake kan speel, beklemtoon.
“Ons eerste taak is om inklusiewe groei te versnel en werk te skep. Die beste manier uit armoede vir mense is deur arbeid en ander produktiewe ekonomiese aktiwiteite soos boerdery en om eienaars van klein besighede te word.” Verlede jaar het Ramaphosa ’n beleggingsveldtog gelei om R1,2 miljard se nuwe belegging vir die land oor vyf jaar te kry. “Ons werk met verskeie beleggers, plaaslik en internasionaal, om nuwe geleenthede in landelike gebiede te identifiseer en te verken.” Om hieraan gestand te doen is munisipale gebiede soos Maluti-a-Phofung en Musina-Makhado by spesiale ekonomiese sones ingesluit.
Die Regering het ook huurkontrakte vir 30 jaar aan bykans 900 boere gefinaliseer sodat hulle finansiering vir landbou-ontwikkeling kan bekom.
Volgens Ramaphosa is hierdie maatreëls deel van ’n breër poging om die landbourevolusie in die land los te laat.
Grondhervorming
Tradisionele leiers was van die belanghebbendes wat ’n bydrae gelewer het tot die werk wat die grondwetlike hersieningskomitee van die Parlement gedoen het tydens die proses van openbare deelname oor of Suid-Afrikaners onteiening sonder vergoeding duideliker in die Grondwet aangedui wil hê. “Hul insette het die debat verryk en waardevolle perspektiewe gebied vir die verslag van die komitee wat by die Nasionale Vergadering ingedien is.”
Ramaphosa het gesê dat verdere raadpleging met die adviespaneel oor grondhervorming oorweeg word vir die ontwikkeling van ’n omvattende program vir versnelde grondhervorming wat die belofte in die Vryheidsmanifes gestand sal doen dat die grond gedeel sal word tussen diegene wat dit bewerk. Die adviespaneel bedien die interministeriële komitee op grondhervorming, wat gelei word deur adj.pres. David Mabuza, van raad.
Een van die take van die interministeriële komitee is om toe te sien dat bekommernisse rakende die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur (Wet 16 van 2013) uitgesorteer word. Die Presidensie het verlede jaar aangedui dat hy dié wetgewing en die nasorgfunksies vir grondhervorming by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming sal oorneem. Die wet, wat in Julie 2015 bekragtig is, maak voorsiening vir die bemiddeling van ekonomiese ontwikkeling en dat apartheidgebaseerde gebiedspatrone getransformeer word. Dit is wetgewing wat grondhervorming ondersteun en wat ’n impak op die landbou en landboubesighede sal hê omdat dit betrekking het op hoe grond in die toekoms gebruik gaan word.
Voogdyskap
Een van die groot kwessies wat tradisionele leiers verlede jaar geopper het, is onsekerheid oor die Regering se planne rakende die behoud en bestuur van grond onder tradisionele leierskap.
Ramaphosa het hulle die versekering gegee dat die bestaande status quo grootliks behoue sal bly.
“Ons aanvaar die breë benadering dat grond wat aan gemeenskappe teruggegee word, in voogdyskap van tradisionele rade namens die mense gehou word. Dit moet in balans gebring word met die grondwetlike reg van individue.”
Ramaphosa het dit ook duidelik gestel dat die Regering vasbeslote is om werklike vordering te maak met die afhandeling van grondeise en die herstel van grond aan gemeenskappe.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.