Die model wat in Mauritius ná sy onafhanklikheid van Brittanje in die 1960’s gevolg is, behoort deur die Regering oorweeg te word indien hy ernstig is om die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika te verklein en die ekonomie verder te groei, meen mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri Oos-Kaap.
Pringle het op Landbouweekblad se beraad oor grondkwessie op Uitenhage gesê dat behalwe Botswana, daar min lande in Afrika is wat ná onafhanklikwording daarin geslaag het om die lot van die armes in hul lande te verbeter. “Nadat Mauritius in die 1960’s met ’n meerderheid van 51% besluit het om onafhanklik te word, was dit ’n land met die grootste verskil tussen ryk en arm in Afrika."
Die suikerbaronne het die meeste grond besit en die Kreole was brandarm. Omdat die land feitlik geen natuurlike hulpbronne het, behalwe die suikerriet en ghwano wat hulle kon uitvoer, het die Regering van die dag met die suikerbaronne beraadslaag. Die baronne het ingestem om ’n heffing van 20% op suikeruitvoer te plaas, wat vir die ontwikkeling van armes aangewend kon word.
Staatsdiens is behou
‘n Besluit is ook geneem om die staatsdiens, soos wat dit tydens die Engelse koloniale regering toegepas is, te behou, asook diplomatieke bande met die Westerse lande.
“Met die inkomste uit die suikerheffing is grond van die rykes gekoop en aan die armes beskikbaar gestel. Die ekonomie is in toerisme en diamantslypery gediversifiseer. Vandag is dit die land met die grootste per kop-inkomste in Afrika en die kleinste gini-koëffisiënt (die verskil tussen ryk en arm burgers).
Mauritius se ekonomie is goed gereguleer en hy het nie na die kommunisme gedraai nie. Pringle het dit egter betreur dat daar politici in Suid-Afrika is wat meen dat Zimbabwe die rolmodel vir Suid-Afrika behoort te wees.
2 Mei 2012