
“Ons verneem met skok en uiterse teleurstelling van Untu se ooreenkoms met Transnet wat op 17 Oktober aangekondig is. Ons voel verraai,” lui ’n verklaring van Satawu.
Die driejaar-ooreenkoms tussen Transnet en Untu is terugwerkend tot April vanjaar. Dit behels ’n 6%-verhoging in salarisse gedurende die eerste jaar, 5,5% in jaar twee en weer 6% gedurende die derde jaar. Die ooreenkoms geld alle werknemers ongeag posvlakke.
Untu het die grootste verteenwoordiging by Transnet en die ooreenkoms beteken nou meer as die helfte van Transnet-werknemers behoort terug op hul pos te wees.
Satawu-lede gaan egter voort met die staking.
Hoewel die beskikbare inligting oor die ooreenkoms geen melding maak van die moontlikheid van afleggings in die toekoms nie, glo Satawu die feit dat die “geen afleggings”-klousule nie in die ooreenkoms verskyn nie, afleggings ’n “materiële realiteit” maak.
In sy reaksie op die ooreenkoms sê Transnet daar sal nou dringend aandag aan die opeenhoping van vragte by hawens gegee word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.