
Agri SA het reeds versoek dat bederfbare landbouprodukte voorkeur kry by die hawens en dat voortgegaan word om dié produkte uit te voer. Die organisasie is ook bekommerd oor landboutoerusting en trekkers wat in Durban-hawe vasgevang is of in sekere gevalle baie stadig uit die hawe vervoer kan word.
Transnet en mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Dinsdag met die vakbonde oor onder meer hierdie versoek van die landbousektor vergader.
Maandagaand was daar aanduidings dat gesprekke met vakbonde vandag sou voortduur, maar dié vooruitsig is Dinsdagoggend vroeg deur Transnet in die kiem gesmoor.
Transnet en vakbonde sal nou eers weer Woensdag byeenkom om loongesprekke voort te sit. Intussen is daar wel ’n ooreenkoms bereik oor die reëls wat geld vir die stakende werkers se protesoptrede.
Sedert Donderdag staak van 20% tot 30% van Transnet-werkers nadat die vakbond Untu met sy staking oor loonverhogings begin het. Satawu gaan hom na verwagting by Untu se staking aansluit.
Transnet het bevestig dat minimale bedrywighede in sy hawens voortgaan. Veral die vraghouereindpunte ervaar groot probleme weens die staking.
Volgens Agri SA word bedrywighede in die Kaapstad-hawe erg ontwrig omdat die Untu by dié hawe baie sterk verteenwoordig word.
Me. MJ Schoemaker, voorsitter van die bedryfsliggaam vir die verskaffingsketting, sê bedrywighede by die hawens is grootliks danksy die private sektor wat wel sekere funksies daar kan verrig.
Sy het Dinsdagoggend op SAFM gesê vir elke dag wat gestaak word, kos dit 10 dae om die vertragings in te haal. “As hierdie staking dus sewe dae duur, gaan dit meer as twee maande kos om die agterstand by hawens in te haal.”
Schoemaker waarsku dit is veral vragte bederfbare produkte soos bessies en vrugte wat die grootste risiko loop om uiteindelik nie by hul bestemmings uit te kom nie.
Schoemaker sê ten spyte van die koste, administrasie en tyd wat dit kan kos, raak Maputo-hawe wel ’n opsie vir uitvoerders gegewe die voortslepende probleme by Suid-Afrikaanse hawens.
Buitensporige verhogings
Volgens Transnet bedra sy lonerekening 66% van sy bedryfskoste en ’n 3%- styging in lone sal sy lonerekening tot ongeveer R30 miljard opjaag.
Me. Yolisa Kani, hoof van besigheidsontwikkeling by Transnet, het in die onderhoud ontken dat bestuurslede by Transnet groot verhogings kry, terwyl werkers afgeskeep word. “Transnet kan nie die 12%-verhoging wat geëis word, gee nie. Indien ons meer as 3% gee, sal dit later tot afleggings lei.”
Me. Busiswe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership SA, het in haar onderhoud gesê die staking kan Suid-Afrika se ekonomie tot op die afgrond toe dryf.
“Hierdie staking is nie meer net ’n Transnet-kwessie nie, dit is besig om nou baie vinnig te ontaard in ’n landsprobleem.” Sy sê vakbondleiers moet besef hul optrede raak almal in die land, nie net Transnet-werkers nie.