
Volgens Business Day is daar in die mees onlangse Cargo Movement-verslag voorstelle hieroor deur die land se sakesektor aan Transnet gemaak, onder meer om verhoogde fooie te betaal en vir ’n bykomende heffing wat Transnet kan help om midde in die staking met bedrywighede voort te gaan.
Volgens die berig is ’n bykomende R148-heffing per vraghouer aangebied wat tot Transnet se kostes om vraghouers te hanteer, gevoeg kan word. Indien Transnet hierdie voorstel aanvaar, kan dit help om die gaping te verminder tussen die werkgewer se aanbod en wat vakbonde wil hê.
Nog voorstelle uit die sakesektor sluit in om werkers by hawens as noodsaaklike werkers te verklaar sodat hulle nie kan staak nie. Daar is ook aanbiedinge om Transnet-haweterminale te subsidieer.
Volgens Business Leadership SA het Transnet egter nog nie laat blyk of enige besluite oor verskeie voorstelle geneem is nie.
Die aantal personeel by die land se hawens het drasties afgeneem sedert die staking verlede week begin het.
Die vakbond Satawu het hom Maandag by Untu aangesluit. Gesamentlik behoort meer as 80% van Transnet se meer as 50 000 werkers aan die twee vakbonde.
Waarskuwings oor die voortslepende staking en die ernstige gevolge wat dit vir die land se uitvoer- en invoerbedrywighede inhou, is al sedert verlede week deur verskeie organisasies gerig.
Die uitvoerseisoen vir die sagevrugtebedryf begin in Oktober en daar heers kommer oor hoe die staking die bedryf en verhoudinge met uitvoermarkte kan raak indien vragte nie betyds by hul bestemmings gaan aankom nie.
Transnet het Dinsdag aangekondig daar vind samesprekings plaas met die sagtevrugtebedryf om gebeurlikheidsplanne te bespreek en planne beraam om vragte met bederfbare produkte en beperkte raklewe te prioritiseer.
Onderhandelinge hervat
Transnet het Dinsdag aangekondig hy stel verhogings van tussen 4% en 5% voor, afhangend van posvlakke, maar Untu het hierdie voorstel verwerp.
Transnet en die vakbonde hervat weer Woensdag loononderhandelinge onder toesig van die kommissie vir versoening, arbitrasie en bemiddeling nadat geen samesprekings Dinsdag plaasgevind het nie.
Die vakbond het vroeër vir verhogings van tot 12% gevra, onder meer om tred te hou met inflasie en stygende lewenskostes van sy lede. Die vakbond sê egter nou ’n hersiene aanbod van 8% sal oorweeg word.
Transnet spandeer 66% van sy begroting op lone en selfs net ’n 3%-verhoging sal sy lonerekening tot ongeveer R30 miljard verhoog, volgens me. Yolasi Kani, hoof van besigheidsontwikkeling by Transnet. Sy het gewaarsku hoër salarisverhogings kan later bydra tot afleggings van personeel.