
Al Transnet se bestuurders wat uit ’n kantoor werk, is verplig om van vandag tot Donderdag 29 Julie of tot die maatskappy weer aanlyn is, verlof te neem. Slegs noodsaaklike bestuurders word hiervan vrygestel.
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging, sê in sy weeklikse nuusbrief dat Transnet se haweterminale, sy nasionale hawe-owerheid en vragvervoer-afdeling skouer aan die wiel gesit het om sy bedrywighede weer op dreef te kry. Transnet se Naskor-spoorlyn, wat Gauteng met Durban verbind, was volgens hom gisteroggend weer in bedryf en die haweterminale is ten volle in bedryf en uiters doeltreffend.
Die sitrusbedryf beleef tans ’n rekordseisoen. Gemiddeld R595 miljoen sitrus word tans weekliks uitgevoer.
Mnr. Gavin Kelly, hoofbestuurder van die padvragvereniging, is egter nie so optimisties oor die situasie by Transnet se hawens nie. “Transnet se stelsels is steeds van lyn af. Transnet sê hy werk aan die probleem. Die situasie by ons hawens word al hoe meer benard aangesien uitvoer en invoer nie behartig kan word nie.
“Dit sal weer groot opeenhopings en agterstande by die hawens veroorsaak. Dit sal ook ’n impak hê op Suid-Afrika se gewenste status as ’n land waardeur ander lande hul invoer en uitvoer kan beweeg.”
Mnr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, sê die kuberaanval op Transnet se IT-stelsel is baie ontwrigtend vir die invoer en veral uitvoer van landbouprodukte omdat alle hawens daardeur geraak word. Dit is veral die sitrusbedryf wat tans erg geraak word omdat dit die bedryf se spitsuitvoertyd is.
“Transnet gebruik intussen ’n ou handstelsel, maar is pynlik stadig en baie ondoeltreffend. In die lig daarvan dat ’n groot deel van die bedryf twee weke gelede ook ’n volle week verloor het, plaas dit geweldige druk op die hele bedryf, veral uitvoer deur Durban.
“Tesame met ander belanghebbendes, wat die departement van handel, nywerheid en mededinging insluit, het ons pas met die Maputo-korridor-uitvoer-inisiatief begin, met me. Barbara Mommenaan die stuur, om groot hoeveelhede sitrusuitvoer deur die Maputo-hawe te kanaliseer. Dit het egter sy eie struikelblokke, waarvan die Lebombo-grenspos by Komatipoort die grootste knelpunt is. Die grenspos sal 24/7 moet funksioneer om die volumes te kan hanteer.”