
Business Maverick berig dat twee anonieme bronne aan hom bevestig het dat Transnet ’n force majeure op ál sy hawens verklaar het. Hy het voor dit na die kuberaanval as ’n onderbreking op sy IT-netwerk verwys.
Die besonderhede van die aanval is nog nie bekend nie. Landbou.com wag steeds op Transnet se kommentaar ná verskeie navrae oor die kuberaanval gestuur is.
Transnet het verlede Vrydag ’n boodskap aan sy klante gestuur waarin hy sê dat die bron van die kuberaanval is geïdentifiseer en geïsoleer. Op 26 Julie is daar egter in ’n boodskap aan klante aangedui dat die maatskappy moontlik tot Vrydag van lyn af sal wees.
Sondag is ál Transnet se bestuurders wat in ’n kantoor werk, verplig om tot Donderdag 29 Julie (of tot die maatskappy weer aanlyn is) verlof te neem. Transnet se nie-bestuurspersoneel is versoek om van tot 30 Julie “in belang van die besigheid” verlof te neem. Nie-bestuurspersoneel wat nie genoeg verlof het nie, sal verlofdae uit hul volgende verlofsiklus verloor.
Me. Sonja Carstens, mediawoordvoerder van die United National Transport Union (Untu), meerderheidsvakbond by Transnet, sê dat Transnet verlede jaar onder meer ’n beperking geplaas het op die grootte van aangehegde dokumente by e-posse om die maatskappy teen kuberkrakers te beskerm.
“Transnet het werklik uit sy pad gegaan om die maatskappy teen kuberkrakers te beskerm. Dit is dus skokkend dat die kuberaanval nietemin gebeur het.
“Untu is erg bekommerd oor die toekoms van Transnet gegewe die huidige situasie. Hy is nog besig om te herstel ná die onluste, veral die hawens op Richardsbaai en Durban, en toe slaan die kuberkrakers toe.
“Dit is duidelik ’n goed beplande optrede, nie verwant aan die onluste nie, veral aangesien dit naby betaaldag gebeur het.”
Mnr. Gavin Kelly, hoofbestuurder van die padvragvereniging, sê daar kan tans geen vragte deur die hawens beweeg nie. “Meer as 88% van die land se vragte word padlangs vervoer. Die agterstand groei daagliks. Dit is nog ’n rede waarom invoerders en uitvoerders hawens buite Suid-Afrika verkies.”
AANVAL IS BEDREIGING VIR SA IT-INFRASTRUKTUUR
Intussen sê mnr. Ghaleb Cachalia, DA-LP, dat die kuberaanval, waaroor die departement van openbare ondernemings en die departement van staatsondernemings sover min inligting verskaf het, tot ’n nasionale afskakeling van die land se IT-infrastruktuur kan lei.
“ ’n Mislukte poging om die oorsprong van die aanval te identifiseer, skep ’n aantal ondenkbaarhede, veral tot watter uiterstes die aanvallers bereid is om te gaan. Hulle het nou ons hawens suksesvol vermink. Dit is moeilik om te voorspel watter noodsaaklike nasionale bedrywigheid volgende is.”
Hy sê dit help nie dat Suid-Afrika opgeskeep is met ’n wanfunksionele sekuriteitskluster wat wegbeweeg het van sy verantwoordelikheid om die land se nasionale sekuriteit te beskerm.
“Die verantwoordelikheid om ’n kuberbedreiging te hanteer, val nou in die hande van die president se kantoor. As hoof van die nasionale sekuriteitsraad moet pres. Cyril Ramaphosa dadelik ’n opdrag uitreik om die omvang van die kuberbedreiging uit te lê en maatreëls uiteen te sit wat sal keer dat die bedreiging verder as Transnet versprei.”
Cachalia sê mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, is onaanvaarbaar stil sedert die aanval verlede week aangemeld is. “Die diepte van die kabinet se wanfunksionaliteit is duidelik uit die verantwoordelike ministers se onvermoë om kommentaar te lewer of op te tree ná ’n aanval op die ruggraat se ekonomiese en logistieke ruggraat.”
Volgens hom is Transnet se verklaring van force majeure op al sy hawens ’n week ná die aanval ’n aanduiding dat dit ’n groot insident is. Dit bevestig ook dat dit nie ’n geïsoleerde voorval was nie, maar eerder ’n verbreking op industriële skaal wat bedoel was om die maksimum hoeveelheid skade te rig.
“Dié skade kan in ander belangrike gebiede kan oorspoel. Transnet se IT-stelsels is verbind met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en doeane. Die uitkringeffek hiervan kan alle ekonomiese bedrywighede verlam.”
Hy sê die DA het inligting oor die kuberaanval en wat gedoen word om die gevolge daarvan te bestuur. “Ons wag in spanning vir die president se aankondiging, aangesien sy minister so stil is, vir besonderhede oor die stappe wat gedoen word om die land se IT-infrastruktuur te beskerm. Die land het hierdie versekering nodig.”