
Luidens ’n kennisgewing aan Transnet se kliënte geld die force majeure vir die Durban-, Ngqura-, Gqeberha- en Kaapstadhawe.
Volgens Transnet kon daar teen Woensdagaand nie ’n ooreenkoms met die United National Transport Union (Untu) bereik word nie. Gevolglik het sommige lede van dié vakbond se onderhandelingseenheid gisteroggend begin staak. “Ons het ons werknemers versoek om verantwoordelik te wees en gee hulle die geleentheid om tot ’n ooreenkoms te kom,” lui die kennisgewing.
Volgens Transnet is dit nie tans duidelik hoe lank die staking sal duur nie, maar sal die nodige maatreëls toegepas word om die staking se impak op die hawens se bedrywighede te minimaliseer.
Luidens ’n berig op Reuters sal die SA Transport & Allied Workers’ Union (Satawu) Maandag by die staking aansluit.
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SA Sitruskwekersvereniging, het gister aan Landbou.com gesê die uitvoer van sitrus vanaf die Wes- en Oos-Kaap kan deur die staking beïnvloed word. Daar is volgens hom nog 7 800 vraghouers sitrus wat vanaf Durban-, Ngqura- en Kaapstadhawe uitgevoer moet word.