Trekkerverkope het sy bullopie vir 2012 voortgesit met verkope wat in Maart 13% hoër was as in Februarie 2012, sê die SA Landboumasjinerie-assosiasie (SAAMA).
Luidens ‘n verklaring is 645 eenhede verlede maand verkoop, terwyl Februarie 2012 se verkope op 569 eenhede te staan gekom het.
Wat stroperverkope betref, is 23 eenhede verlede maand verkoop. Verkope vir Februarie 2012 was 14 eenhede. Oor die algemeen is trekkerverkope tot dusver vir 2012 sowat 37% hoër as in 2011, terwyl stroperverkope ‘n 14% verhoging aangeteken het.
Laat reën
Verskeie faktore het tot dié groei bygedra, maar SAAMA sê reën laat in die seisoen in sommige dele het ‘n nadelige invloed op die bedryf gehad. Veral mielie- en sojaboonoeste word geraak.
“Oespryse bly goed, met ‘n fyn balans tussen vraag en aanbod ten opsigte van voorraadvlakke. Dit het ‘n invloed op oespryse, omdat plaaslike en internasionale voorraad redelik laag is,” aldus mnr. Lane Reynolds, voorsitter.
5 April 2012