
“Ons harte loop oor. ’n Mens het nie woorde om te beskryf hoeveel dit vir ons gemeenskap beteken nie,” sê mnr. Andries Kotze, ondervoorsitter van die Trompsburg-boerevereniging.
Sommige boere het tussen 60% en 80% van hul weiding verloor en voorlopige skadeberekenings dui daarop dat meer as 450 skape en 30 beeste in die slag gebly het in dié reuse-brand wat tussen 15 en 17 November in die distrik gewoed het.
Skenkings is van heinde en ver ontvang, maar veral omliggende distrikte se boereverenigings en sake-ondernemings het dadelik uitgereik en voer aangery. Ander voerskenkings wag om gehaal te word sodra die boere van Trompsburg vervoer kan reël, sê Kotze.
Hulp is ontvang van Fauresmith, Edenburg, Philippolis,
Bultfontein, Dewetsdorp, Reitz, Tweeling, Daniëlsrus, Bainsvlei, Hopetown,
Vanderkloof, Wurasoord en Reddersburg.
“Die hulp wat ons ontvang het, was nie net in die vorm van voer nie, maar ook geld wat weldoeners landwyd geskenk het en waarvoor ons baie dankbaar is,” sê Kotze.
Dié skenkings word gebruik om onder meer diesel te koop sodat verdere voerskenkings na Trompsburg gebring kan word.
Hy was veral geraak deur die wyse waarop vroue op die platteland netwerke gevorm het om geld in te samel.
“Van hulle het uitgereik na hul vriendinne in die stede, wat ons bygestaan het met skenkings soos hulle dit kon bekostig. Elke bietjie help en ons is so dankbaar daarvoor.”
Hy sê daar sal vir die volgende twee jaar steeds groot nood heers onder boere wat hul weiding en voer vir hul vee, asook hul vee self, verloor het.
“Selfs al kan iemand nie nou voer skenk nie, sal ons baie dankbaar wees vir opvolghulp ná dit elders gereën het en boere in daardie distrikte voer kon opgaar.”
Na verwagting het tussen 20 000 ha en 30 000 ha in die slag gebly weens die brande, en Kotze sê die plaaslike boerevereniging wag op ’n satellietfoto van Vrystaat Landbou wat die volle omvang van die skade sal toon.
Vrystaat Landbou (VL) het ’n ondersteuningsnetwerk gevestig vir die boere wat hul weiding en voer vir hul vee, asook hul vee verloor het. Enigeen wat die boere wil bystaan, word versoek om die organisasie te kontak. Volgens inligting op VL se Facebookblad is die grootste behoefte voer of geld vir die vervoer van voer. Belangstellendes kan ook die webwerf Vriende van Landbou by http://www.vlvriende.org/ besoek vir nog inligting of verwysings.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.